RIVERSDAL NUUS - Ses leerders en een leerkrag het vanaf 26 Desember tot 11 Januarie die Kalahari Vasbyt saam met nog 34 leerders van oor die land meegemaak.
Die uiters gewilde natuurbelewenis word jaarliks deur die bekende mnr. Andries Erwee van Temba-toere aangebied, en twee oudskoliere, Benno Klinck en Dirk du Toit, was ook leiers op die Vasbyt.
Afgesien van die roetemars van 40 km en verskeie fisiese oefeninge, was dit veral die avontuuraktiwiteite wat die adrenalienvrate as hoogtepunt van die Vasbyt beskryf. Dit strek oor 'n gebied vanaf Victoriawaterval in Zimbabwe dwarsdeur Botswana van Chobe in die noorde, deur die sentraal Kalahari tot in die suide by Martinsdrift.
Die deelname van mnr. Pine Marais dra by tot die uniekheid van hierdie geleentheid. Hy en sy vrou Petrusa het besluit om op uitnodiging van Erwee dit mee te maak en om die 'Voetspore van Stefan' te volg. Stefan (hul seun) het voor sy afsterwe op 19 Januarie 2018 pas teruggekom van die Kalahari Vasbyt wat hy met groot sukses voltooi het.
Petrusa het die eerste vyf dae van die Vasbyt meegemaak en daarna na Riversdal teruggekeer. Pine het die Vasbyt en alles saam met die seuns voltooi, ook die roetemars oor 40 km. Tydens hierdie geleentheid het hulle oral bewyse van Stefan se spore gevind en het afgesien van verskeie emosies, ook baie vrede ervaar. Hy verwys na sy uitstappie as 'Op die spore van my hero.'
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'