RIVERSDAL NUUS - Die Korentepoortdam se vlak is steeds besig om te daal en is reeds net bo 36%, ten spyte van goeie reëns in die streek.
Vlak 3 waterbeperkings is Woensdag 29 Augustus tydens die uitvoerende burgemeesterskomitee in plek gestel vir dié dorp. Dit tree onmiddellik in werking.
Die beperkings behels die volgende:
- Tuine mag net eenkeer per week tussen 17:00 en 19:00 natgemaak word en indien afgewyk wil word van die tyd, moet 'n skriftelike versoek by die tegniese departement ingedien word. Hierdie bepaling vervang alle vorige vergunnings vir die natmaak op ander tye.
- Slegs tuinslange mag gebruik word indien onder toesig, emmers en gieters mag ook gebruik word.
- Afspuit van verharde oppervlaktes word verbied.
- Was van voertuie, karavane en bote mag slegs deur middel van 'n emmer gedoen word.
- Indien ander bronne soos reënwatertenks of boorgate gebruik word, moet dit op 'n sigbare wyse aangedui word.
Vlak 1 water-beperkings bly steeds van krag vir die res van die Hessequa-streek.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'