HESSEQUA NUUS - Suid-Afrika is besig om die basiese onderwyskurrikulum aan te pas om leerders meer gereed te maak vir die wêreld van werk.
Dr. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys het onlangs bekend gemaak dat dit nuwe vakke soos onder meer kodering en robotika, mariene wetenskappe, hidro- en akwaponika, lugvaartwetenskappe, wiskunde, wetenskap en lugvaartstudies insluit.
Die doel is om leerders se belangstelling in nuwe vakke te stimuleer en hulle aan te spoor om langer op die skoolbanke te bly sodat hulle beter toegerus is wanneer hulle skool verlaat.
"Ek is van mening dat die nuwe vakke leerders se diversiteit van belangstelling sal aanspreek," sê mnr. André Latsky, hoof van Hoër Landbouskool Oakdale. "Skole sal selektief te werk moet gaan om van hierdie vakke by hul kurrikulum in te sluit."
Volgens hom sal daar baie goed besin moet word oor die volgende sewe faktore voor die vakke ingesluit word:
- Beskikbaarheid van opgeleide onderrigpersoneel wat oor die nodige onderwys-kwalifikasies beskik om die vakke te kan onderrig;
- Belangstelling onder leerders wat hierdie vakke graag wil neem en daarmee sal kan volhou;
- Finansiële implikasie met betrekking tot die infasering van die vakke;
- Die personeelvoorsieningskaal van die skool en bekostigbaarheid van 'n nuwe personeellid, indien nodig;
- Die moontlike uitbreiding van beroeps- en studiegeleenthede wat die vakke aan leerders kan bied;
- Die moontlike uitfasering van ander vakke en gepaardgaande aflegging van bestaande onderwyspersoneel in die toekoms;
- Die gereedheid van onderwysstrukture om vakleiding in die betrokke vakke aan te bied en in gr. 12 ekstern te assesseer.
"By 'n landbouskool sal die vakke marienebiologie, hidroponika, asook akwaponika goed by die kurrikulum kan inskakel. Daar sal egter deeglik navorsing gedoen moet word oor die leerplan van die onderskeie vakke."
Hy waarsku dat onoordeelkundige insluiting nadelige gevolge kan hê. "Die versplintering van die kurrikulum met 'n klomp nuwe vakke kan nadelige gevolge vir enige mediumgrootte skool inhou. Skole sal dus hul huiswerk baie goed moet doen en 'n verantwoordbare besluit moet neem."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'