ALBERTINIA NUUS - Die ywer en passie wat deur die leerders van Oker Primêre Skool aan die dag gelê is en die potensiaal wat hulle ten toon gestel het by die opening van die Nasionale Wetenskapweek, het daartoe bygedra dat 'n splinternuwe Wetenskap Leersentrum (WLS) by dié skool ingerig is.
Die akademiese ambisie van die leerders het 'n stewige hupstoot gekry met die luisterryke opening van die leersentrum op 20 Oktober vanjaar.
Die geleentheid is bygewoon deur onder andere prof. Vuyokazi Nomlomo (dekaan van die Fakulteit Opvoeding, Universiteit van Wes-Kaapland), prof. Shaheed Hartley (direkteur van die Science Learning Centre for Africa: Universiteit van Wes-Kaapland) en mnr. John Matthews (hoof- uitvoerende beampte van Garden Cities - Archway Foundation) en ander hooggeplaastes.
Die WLS is die produk van 'n vennootskap tussen die Science Learning Centre for Africa: Universiteit van Wes-Kaapland, die Garden Cities - Archway Foundation en die Wes-Kaapse departement van onderwys en sal die kwaliteit onderrig in die wetenskappe meer toeganklik en die leerervaring van die leerders aangenamer maak.
Die skoolhoof, Jacobus Tarantal, het die belangrikheid van 'n gunstige leerklimaat beklemtoon.
Hy het die partye tot die vennootskap bedank vir hul verbintenis tot kwaliteit onderrig in die wetenskappe en hul mildelike belegging in die ontwikkeling en opvoeding van die leerders van die skool en die gemeenskap in die algemeen.
Hy het gesê dat dit optimaal benut sal word en dat dit sal verseker dat belowende leerders hul volle potensiaal bereik.
Lees 'n vorige artikel: Skool kry nuwe leersentrum
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'