Update
STILBAAI NUUS - Die hospitaal aan die oostekant van die dorp het 'n stap nader aan bedryf gevorder.
Die nierdialise-eenheid is onlangs voltooi en 'n kontrak met 'n internasionale groep wat dialise-eenhede landwyd bedryf, is gesluit.
Volgens die ontwikkelaar van die hospitaal, Nico Viljoen, is kontrakteurs reeds op die terrein besig met installasies om die eenheid gereed te kry.
Die dialise-eenheid sal een afdeling van 'n beoogde wye verskeidenheid mediese dienste uitmaak. Volgens Viljoen is hul doel om 'n unieke algemene hospitaal daar te stel wat uiteindelik ook akkommodasie vir pasiënte en hul gesinne, asook opleidingsfasiliteite in die vooruitsig stel. Mediese toerisme raak ook al gewilder en die beoogde 'dorpie' by die hospitaal sal voldoende oornagplek aan buitelandse pasiënte wat vir behandeling na spesialiste kom, bied.
Viljoen benadruk dat dit tyd neem om so 'n gespesialiseerde gebou gereed te kry: "Behalwe vir die bouplanne en -werk wat aan baie spesifikasies eie aan mediese fasiliteite moes voldoen, moet elke afsonderlike afdeling by die departement van gesondheid gelisensieer word. Die uitreik van die talle lisensies is 'n tydrowende proses. Die laaste bouplanne vir die radiologie en patologie eenhede en die dokterspreekkamers is eers op 6 September finaal deur die departement goedgekeur."
Enige sentrum het 'n ankerwinkel nodig en Viljoen beoog om binnekort goeie nuus hieroor te deel: "Onderhandelinge met 'n internasionaal-bekende pynspesialis is in 'n gevorderde stadium."
Viljoen sluit af met 'n tasbare gevoel van opgewondenheid: "Die hoop is dat die projek eersdaags voltooi sal wees en 'n openingsdatum binnekort aangekondig sal kan word."
IN SHORT
Plans for the commissioning of the new general hospital on the eastern side are still on track, according to the developer Nico Viljoen. The renal dialysis unit has recently been completed and contractors from an international group operating such units are already doing installations on site. Viljoen said negotiations with medical specialists as well as a world-renowned pain specialist as anchor tenant are well advanced and he hopes to announce an official opening date soon.
Lees 'n vorige artikel: Stilbaai-hospitaal kry hupstoot
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'