Update
RIVERSDAL NUUS - Hoe was dit om in die ou dae 'n ma te wees?
Naomi Stander (95) is in 1948 getroud en sy en haar man en vyf dogters het in Pretoria gewoon.
"Destyds was die meeste vroue huisvrouens. Ons het nie hulp gehad nie en het alles self gedoen."
Die gesin het 'n ruk lank op 'n plaas gewoon en al was daar nie elektrisiteit of water aangelê nie, was daar volop van alles, veral slagvee. Later, toe hulle in die dorp gaan woon, was hulle ook selfonderhoudend met 'n groentetuin en vrugteboord. "Ons was 'n groot gesin, want my ma het ook 'n aantal jare voor haar dood by ons gewoon. Ons het nie die pakkies groente en vrugte gekoop nie, maar grootmaat, soos 'n sakkie aartappels en gems (lemoenpampoentjies) en 'n kissie tamaties. Die res het uit die tuin gekom."
Hulle het nie geld gehad om te mors nie, maar dit wat hulle gehad het, het hulle goed bestee. "Ons het gespaar as ons iets wil koop. Ons het nie skuld gehad nie." Al het hulle dit nie aldag maklik gehad nie, het hulle goed gelewe. "Alles was eerlik en opreg. Die kinders kon nog in die straat loop - ek het hulle dikwels gestuur om vir my te gaan wol koop. Ek het self my eie en my dogters se rokke gemaak, en dit was vir my 'n groot plesier."
Wanneer die kleingoed 'n aansteeklike siekte soos masels gekry het, is hulle almal in dieselfde kamer gehou tot almal gesond is. "Ons het nie antibiotika geken nie."
Sy kan nie onthou wanneer hulle Moedersdag begin vier het nie. "Die kinders het altyd gesê elke dag is Moedersdag, net soos elke dag Kersdag is. Elke dag is 'n mooi dag. As jy só daarna kyk, vat jy elke dag soos hy kom, en vir my is als mooi."
Maggie Piek: "Ons het swaar gekry tydens die oorlogsjare."
Maggie Piek (93) is 'n gebore Vrystater. Sy en haar man is in 1947 getroud en het in Bloem-fontein gewoon. "Ons het swaar gekry tydens die oorlogsjare. Destyds het die OK soms iets ingekry, soos 'n bord of 'n paar koppies, waarvoor 'n mens in lang toue moes staan, net soos vir 'n stukkie vleis of 'n paar aartappels. My eerste wasmasjien was 'n klein Hoovertjie wat 27 pond gekos het," vertel sy. "Daardie jare het ons nie van Moedersdag geweet nie, maar later, toe die kinders groter was, het hulle vir my geskenkies en mooi kaartjies gegee. My dogter het altyd vir my mooi versies geskryf."
Ina Rossouw: "Ons het elke dag vars vleis en groente gekoop."
Ina Rossouw (81) het in Grabouw groot-geword. "Daardie jare het ons nie 'n vrieskas gehad nie en ons het elke dag vars vleis en groente gekoop," onthou sy.
Destyds moes haar twee seuns nog grens toe gaan vir nasionale diensplig. "Dit was nie lekker nie. 'n Mens het gehoor daar is geskiet, maar hulle mag nie geskryf het dat dit sleg gaan nie.
Elke keer wanneer jy moes afskeid neem, het jy nie geweet of jy hulle weer lewend gaan sien nie."
Sy kan nie onthou wanneer Moedersdag 'n instelling geword het nie, maar haar kinders het altyd mooi blomme gegee. "My man het nooit vir my iets gegee nie. Hy het gesê ek is nie sy moeder nie!"
Lees 'n vorige artikel hier: Hoe was dit om in die ou dae 'n ma te wees?
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'