Update
STILBAAI NUUS - Daar was trane, maar bowenal dankbaarheid vir mooi herinneringe tydens 9 November se diens om wyle Harold Basson se lewe te vier.
'n Groot aantal familielede, vriende en kollegas het in Stilbaai se NG Kerk die laaste eer aan Hessequa-munisipaliteit se ontslape bestuurder van tegniese dienste betoon, nadat vriende en oudkollegas in George op Vrydag 8 November ook 'n gedenkdiens vir hom kon bywoon.
Die tema van die boodskap gebring deur ds. Francois Taljaard was uit Psalm 139: "Jou begin en jou einde is by die Here." Hy het Basson beskryf as iemand wat 'n kosbare geskenk van God was en wat gewillig as instrument in God se hand 'n verskil in mense se lewens gemaak het.
Basson se jonger broer Kobus het tydens die bedankings sy broer 'n man van min woorde en groot dade genoem: "Al het hy min gepraat, kan hy met 'n lang lys woorde soos nederig, blymoedig, lojaal en onselfsugtig beskryf word."
Basson is tydens 'n privaat geleentheid in George veras.
’n Enkele ruiker voor in die kerk het die treffende impak van Harold Basson se lewe tuisgebring. Foto: Deona Aucamp
Lees 'n vorige artikel hier: Harold Basson word onthou
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'