Update
STILBAAI NUUS - 'n Interessante proe-geleentheid word gedurende die April-skoolvakansie hier aangebied met die Stilbaai Craft Beer, Gin and Wine Expo wat op 4 en 5 April in die gemeenskapsaal plaasvind.
Dit is reeds die derde agtereenvolgende jaar dat die geleentheid gedurende die vakansie aangebied word en het die afgelope twee jaar in gewildheid toegeneem.
Volgens die organiseerders word nie minder nie as 23 topwynplase van die Riversdal- en Herbertsdale-omgewings en tot sover as die Karoo, Robertson-wynvallei, Stellenbosch en die Kaap, asook die Hermanus- en Agulhas-omgewings verwag met heelparty wynmakers en eienaars wat self hul wyne gaan verteenwoordig.
Ses mikro-bierbrouerye van sover as Darling, Worcester en Mosselbaai sal hul verskillende boetiekbiere vir proe beskikbaar hê.
Veral Jenewer (Gin) wat in kleiner hoeveelhede vervaardig word, het die afgelope paar jaar in gewildheid toegeneem. Stilbaai se wêreldbekende gin-distilleerdery gaan vanjaar vir die eerste keer óók by die expo wees met nóg 'n paar eiesoortige distilleerders wat hul produkte aan die publiek bekend en beskikbaar gaan stel.
Plaaslike kaas- en olyfprodukte sal ook beskikbaar wees, asook heerlike kos.
Die toegangsfooi is R70 per persoon, wat 'n unieke proeglas insluit en kaartjies is by die deure beskikbaar.
Al die wyn, bier- en ginprodukte sal te koop aangebied word. Die deure maak beide dae om 16:00 oop tot 21:00. Kaartfasiliteite sal beskikbaar wees.
Die Stilbaai Craft Beer, Gin and Wine Expo word aangebied deur Stilbaai Kelders.
Lees 'n vorige artikel: 'n Proe-ervaring soos min
ARTIKEL & FOTO: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'