RIVERSDAL NUUS - Pieter van Wyk (49) is wel die president van die Riversdal-landbouskou, maar hy is ook 'n boer en die besturende direkteur van 'n steenwerke wat kleistene vervaardig en versprei.
Dié gebore Riversdaller het aan die Hoër Landbouskool Oakdale gematrikuleer, waarna hy 'n jaar lank sy nasionale diensplig verrig het en toe 'n landbou-diploma aan die Grootfontein-landboukollege in Middelburg, Kaap, verwerf het.
Hy het hom in 1993 by sy ouers, Joubert en Alida, se boerdery op die plaas Vetterivier aangesluit.
Pieter se oupagrootjie het die plaas net ná die Tweede Wêreldoorlog gekoop en sy oorlede oupa het die steenwerke in 1968 gevestig.
Pieter, die derde geslag, bedryf 'n gemengde boerdery bestaande uit twee vleisbeesstoete (rooipoenskop en senepol) en vleismerinoskaap. Hy verbou ook graangewasse.
Die gevolge van die koronavirus het die boerderygemeenskap én die sake-ondernemings op die dorpe in die Hessequa-streek erg beïnvloed.
"Die arbeidvereistes, soos vervoer en veilige afstand in die werkplek, bly maar 'n uitdaging. In baie gevalle was daar van ons plaaswerkers of hul familielede siek en moes hulle in kwarantyn aansterk. Dit het uiteraard arbeidsgevolge meegebring."
Hy sê boere moes planne beraam om verligting te bring. Die meeste werkgewers het hul werkers ondersteun om by die inperkingsregulasies te hou. "Ons het hulle aangemoedig om hulself en ander te beskerm, hul gesondheid deur goeie higiëne op te pas en om aanvullings te neem om hul immuunstelsel te versterk. Ek vertrou op uitkoms. Mense is deesdae meer ingestel op mekaar se gesondheid."
Waardes tel
Pieter is 'n gesinsmens. Hy en sy vrou, Sandra, is al 26 jaar getroud.
Sy is daagliks by hul onderneming betrokke. Hul twee seuns, AJ (24) en Jan-Hendrik (22) het hulle onlangs by die boerdery aangesluit en hul dogter, Tina-Mari (21), is besig met haar derdejaarstudie op Stellenbosch.
"Ek sê altyd vir hulle dat 'n mens se eerste prioriteit is om in die hemel te kom en só te leef dat ander mense dit in jou lewe kan raaksien. Ek vertel hulle gereeld om elke geleentheid en seëning wat jy ontvang, ten volle te benut."
Hoewel Pieter op die oog af heel rustig voorkom en ontspanne gesels, is hy 'n bedrywige man.
"Ek staan elke oggend vroeg op en begin my dag met stiltetyd. Daarna is ek reg vir die dag met al sy geleenthede en uitdagings. Dit bly maar besig by ons en die spoed is hoog. Party dae kom die probleme meer op 'n hoop as ander dae, maar as die dag verby is, het ons dit óók gemaak."
Pieter is hoopvol. "Ek leef my Christenskap ten volle uit en benut en waardeer elke geleentheid wat ek kry. Ek vind die mooi in almal met wie ek omgaan en ander mense se geluk maak my ook gelukkig. Daar is min dinge in die lewe wat my regtig ontstel. Ek hou nie van onsmaaklikhede nie. Die meeste misverstande en moeilikhede kan met goeie kommunikasie uit die weg geruim word. In ons gesin word dinge wat krap bloot uitgepraat."
Hy erken hy gee mense soms té maklik die voordeel van die twyfel en bied hulle dan nóg kans; soms tot nadeel van homself en sy sakebedrywe. "Ek neem egter nie impulsiewe besluite nie en ek respekteer my medemens."
En sy wens vir 2021? "Dat ons hele gemeenskap 'n jaar van goeie gesondheid en voorspoed sal hê."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'