Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Vetplantparadys in die kleine, dis wat in mens se gedagtes opkom wanneer jy verby Michelle en Jumbo Jacobs van Stilbaai se huis ry, want dit is net vetplante en kaktusse waar jy kyk.
Daar is darem so 'n klein spasietjie aan die voorkant vir 'n lappie gras en hier en daar 'n mooi ornament, 'n miniatuur windpomp en 'n bankie. Jumbo waarsku vinnig dat die bankie net vir "die mooiegeit" daar is en nie om op te sit nie.
Die tuin is eintlik Michelle se baba.
Sy het nog altyd 'n liefde vir vetplante gehad en toe hulle vier jaar gelede na Stilbaai verhuis, het sy besluit om iets daadwerkliks daaraan te doen - veral toe sy 'n paar vetplantjies by 'n vriendin, Linda Franken persent kry.
"Die gogga het behoorlik gebyt en as ek 'n vetplant iewers sien wat ek nie het nie, moet ek dit net kry," vertel sy. Kaktusse maak 'n groot deel van haar versameling uit en sy beoog om ten minste een van die ongeveer 300 spesies by haar versameling te voeg.
"Michelle behoort omtrent aan elke Facebookgroep wat oor plante gaan en sy bestel dikwels plante van ander plekke, selfs so ver as Mpumalanga," gooi Jumbo sy stuiwer in die armbeurs.
Dié kosbare inhoud word gelukkig in stewige pakkies opgemaak en het hulle nog nooit enige skade daarmee gehad nie.
Kyk 'n video hieronder:
Vorige artikel: 'n Vetplantparadys
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'