SLANGRIVIER NUUS - 'n Plaaslike ma en dogter-spyseneringsdiens het op Vrouedag ongeveer 100 dames van Slangrivier en Heidelberg in die plaaslike gemeenskapsaal trakteer.
Louise Esau en haar dogter Frandolene Joseph het 'n heerlike ete voorgesit. Die vroue is ook deur 'n haarstilis en 'n manikuris bederf.
Verskeie vroue het van die spesiale geleentheid gebruik gemaak om hulself te laat 'opgradeer'.
Volgens Joseph wou hulle die vroue wat hulle so ondersteun en vertrou met hul verskeie funksies, bedank.
Die verrigtinge is deur vader Chassley Fredericks, predikant van die St. Lukes en St. Barnabas Anglikaanse kerke geopen.
Joseph het as gasvrou die aanwesiges verwelkom, waarna die St. Lukes-dansgroep opbouende geestelike danse gedoen het. Verskeie gelukkige wenners het ook geskenke ontvang.
Sprekers soos Lilian Fredericks, pastoriemoeder, sr. Elize Esau, verpleegster en Nadia Februarie, ambulanspraktisyn het opgetree. Nicolette Manho het die vroue met die lied 'Tot hiertoe het die Here ons deurgedra' bemoedig. Fredericks het die vroue aan die groot vroue-opmars na die Uniegebou in Pretoria in Augustus 1956 herinner. "Wees jouself, ons elkeen is uniek geskape," het sy benadruk.
Esau het beklemtoon dat vroue soos die varkoorblom in die diepste moerasse moet groei ten spyte van omstandighede. "Net soos die varkieblom haal God jou uit jou diepste moeras en verander jou tot die unieke vrou wat jy is."
Sy het ook die belang van 'n gesonde leefstyl met gereelde oefening benadruk. Hulle het daarna 'n paar ligte oefeninge gedoen.
Laastens het Joseph almal bedank vir hul ondersteuning en die hoop uitgespreek dat hulle dit sal kan volhou om hul bydrae tot Vrouedag in die toekoms te lewer.
Voor, van links: Lilian Fredericks, Vader Chassley Fredericks en Frandolene Joseph. Agter: Nasia Februarie, Nicolette Manho, Elize Esau, Bernadene Olifant en Suzy Prins. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'