Gallery Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Met 'n gebrul wat hoor en sien laat vergaan het, het 37 groot motorfietse Huis Stilbaai laat skud.
Die Helpende Hand Bikers Club onder leiding van Corrie van der Westhuizen en Solidariteit Helpende Hand het op Saterdag 15 Februarie 'n nappy run ten bate van die tehuis gedoen.
Die doel was om doeke vir volwassenes in te samel en twee bakkievragte vol is afgelewer.
Karlien Saayman (bestuurder Huis Stilbaai) sê hulle is baie dankbaar vir dié groot geskenk: "Ons gebruik 'n groot klomp doeke per maand en dis 'n peperduur item."
Na die formaliteite afgehandel is, kon elkeen wat wou 'n draai op 'n motorfiets ry. Maria Taljaard het die ys gebreek en saam met Marcel Roode straat-af verdwyn. Die ridders van die ysterperde het versigtig elke passasier opgehys, reggeskuif en vasgehou tot die valhelm op was en die sleutel kon draai. Amper elkeen het na die brul om die blok gereken dit was heeltemal te kort én te stadig.
Die mansgeslag was opvallend afwesig tussen almal wat vir 'n pretrit nadergestaan het.
Fotogalery: Helpende Hand bikers club hou nappy run
Die plaaslike OK Foods het wors en ander eetgoed verskaf en die inwoners was hoogs opgewonde oor die boereworsrolle wat deur die Vriende van Huis Stilbaai voorberei is. Bobby Mitchley het vir vrolike musiek gesorg en party het sommer 'n paar danspassies uitgevoer.
Volgens Alisha de Lange van die Wes-Kaapse tak van Helpende Hand was dit die eerste nappy run wat in die Suid-Kaap gedoen is.
Kyk 'n video hieronder:
Marcel Roode en Maria Taljaard. Foto’s: Deona Aucamp
Van links: Antoinette en Corrie van der Westhuizen en Karlien Saayman.
Vorige artikel: 'n Harde geraas met sagte harte
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'