Update
JONGENSFONTEIN NUUS - Die verdrinkingsdood van 'n geliefde Stilbaai-fotograaf het maatreëls tot gevolg gehad wat reeds 'n lewe gered het.
Wyle Debbie Smith het op 12 Januarie 2019 in die getypoel op Jongensfontein verdrink. Sy was 'n sterk swemmer, maar 'n sleurstroom was een te veel vir haar en haar man en vriende kon haar nie betyds bereik nie.
As gevolg van die tragedie het die Jongensfontein Inwonersvereniging in samewerking met Stilbaai-NSRI 'n reddingstou oor die poel gespan waaraan in sterk strome vasgeklou kan word.
Die NSRI het ook een van hul pienk reddingsboeie daar aangebring. Die tou en boei het reeds die afgelope Desember 'n vakansieganger se lewe gered.
Tydens die onthulling van 'n gedenkplaat ter ere van haar op Sondag 12 Januarie het Rean Pretorius van die plaaslike sakekamer op wyle Smith se bydrae tot die plaaslike gemeenskap klem gelê: "Sy het meer met haar opregte mensliewendheid meer lewens geraak as wat ons ooit sal weet. Ons wil haar nalatenskap laat voortleef en aanhou om ander tot voordeel te strek."
Haar ma, Malinda Smith, het na die seremonie bewoë gesê: "Ek en my man, Tap, het nooit gedink ons dogter het soveel mense beïnvloed nie. Ons het 'n engel grootgemaak sonder om dit te weet."
Die gedenkplaat is tydelik teen die kennisgewingbord by die trappe na die poel vasgesit. Volgens Naas Palmer van die Inwonersvereniging sal 'n nuwe kennisgewingbord binne die volgende maand of twee opgerig word waarna die plaat permanent vasgesit sal word.
Lees 'n vorige artikel: Geliefde fotograaf se nalatenskap herdenk
'Ons bring jou die nuutste Jongensfontein, Hessequa nuus'