Update
HESSEQUA NUUS - Ontstuimige weerstoestande het dikwels die gevolg dat robwelpies van die rotse afgeslaan word. Omdat hulle nie sterk genoeg is om teen die seestrome weer op die rotse te kom nie, spoel hulle op die strand uit.
Tien welpies is reeds op 30 November deur S.M.A.R.T. (Stranded Marine Animal Rescue Team) na Hartenbos-dierehospitaal geneem. Wanneer hul sterk genoeg is en die see weer rustiger is, word hulle weer vrygelaat. Baie van die welpies wat uitspoel, het nog 'n naelstring aan; van hulle is reeds dood.
Meeste van die robwelpies spoel vanaf Groot-Brakrivier tot by Mosselbaai Punt uit, maar was ook al vanaf Gouritsmond tot Stilbaai opgemerk.
Val Marsh, S.M.A.R.T. se woordvoerder maan inwoners en besoekers om op die uitkyk vir die welpies te wees, maar om hulle nie in die see terug te sit nie. "Hulle is te swak en te moeg en sal verdrink. Moet asseblief ook nie selfies saam met hulle neem nie en hou honde van die welpies weg, omdat beide die hond en welpie siek kan word," waarsku sy.
Sy maan mense ook om nie met hul kaal hande aan die welpie te vat nie, vir hul eie veiligheid.
Persone wat op welpies afkom, kan S.M.A.R.T. (072 227 4715) kontak met 'n pin van hul ligging en ook hul kontaknommer.
Vorige artikel: Los robwelpies uit
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'