HESSEQUA NUUS - Branville Saayman, 'n graad 10-leerder van Hoërskool Albertinia het Woensdag, 20 Oktober aan die Sonder Emmer-talentfees op Riversdal in die kategorië vir drama deelgeneem.
Hy het sy eie monoloog, Jy judge my lewe??!! opgevoer.
"Elke oomblik op die verhoog was baie lekker. Ek het goud, sowel as A+++ vir uitmuntende spel gekry. Ek was in my skik met Zac, die beoordelaar en self ook 'n akteur se terugvoering en toe hy vir my sê: 'ek gaan op die uitkyk wees vir jou en dalk werk ons nog saam in die toekoms'."
Volgens Saayman het een van die organiseerders na afloop van die kompetisie vir hom gesê dat dit vir hom duidelik is wat hy (Saayman) eendag gaan doen.
"Die komplimente het ingestroom. Die storie wat ek vertel is nie 'n kwessie waaroor ons graag praat nie, maar ek gebruik my platform om 'n stem vir ander te wees."
Hy bedank Joanne de Waal wat hom oortuig het om deel te neem.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'