Video
HESSEQUA NUUS - Tieners van Hessequa het vanaf 18 tot 22 Oktober gesing, gedans en toneelgespeel soos ou, gesoute kunstenaars in die Sonder Emmer Tiener Talentfees.
Volgens Dina van Druten van Riversdal wat die talentfees aangebied het, is die naam op Matt 5: 14-16 geskoei: "Ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie, maar op 'n lampstaander."
Hulle het gesien hoe kinders, veral tieners deur die Covid-19-tyd se donkerte ingesluk word en wou hulle weer 'n kans gee om hulle lig te laat skyn en hulle fokus te laat wegskuif van die pandemie en die invloed wat dit op hulle lewens het.
"Die talentfees fokus daarop om tieners se talente te ontwikkel sonder dat hulle met mekaar kompeteer. Daar is geen kategoriewenners nie en dus geen verloorders nie."
Alle skole in die omtrek het uitnodigings ontvang en Van Druten bedank die leerders wat die stap gevat het om deel te neem.
VIDEO: Familie maak musiek
Die fees het Maandag met die dans-afdeling in die Riversdal NG-kerksaal afgeskop en is deur Georgine Heenop behartig wat haar uitstekend van haar taak gekwyt het. Daar was omtrent 50 uiteenlopende dans-items en is deur die professionele en ervare Elmarie Grobler, Rolene Farre en Annette Louw beoordeel.
Akteur Zak Hendrikz
Die drama-afdeling het Woensdag aan die beurt gekom. Die fees was bevoorreg om vir die akteur Zak Hendrikz van onder meer Binnelanders, Getroud met Rugby en Ballade vir 'n Enkeling as hoofbeoordelaar te kry. Hy is deur Hanlie Burger bygestaan. Die monoloë, poësie, prosa en redenaarsvernuf van die deelnemers was van hoogstaande standaard en het die beoordelaars beïndruk.
Met die musiek-afdeling Vrydag het die fees groot gegaan en Lee Scott, gerekende musikant en TV-aanbieder het die popmusiek-afdeling beoordeel. Christelle Gildenhuys het die klassieke gedeelte van die program beoordeel.
Daar is natuurlik ook skryfkuns, kuns en video's wat in hierdie allesomvattende fees beoordeel word.
Vir Van Druten was dit baie belangrik om goeie en professionele beoordelaars te gebruik omdat hulle repliek gee wat werklik in die praktyk toegepas kan word om die deelnemers se talent te ontwikkel.
"Hessequa se tieners is uiters talentvol en die optredes het my verwagtinge soms meestal heeltemal oorskrei. Hierdie talente moet uitgeleef en ontwikkel word. Dit was vir my 'n voorreg om aan hulle die geleentheid te bied om hulle talente uit te leef en om deel te kon wees daarvan.
"Ek moet aan elke deelnemer sê: Welgedaan."
Van links is Romé van Druten, Granville Saayman, Hanlie Burger, Zak Hendrikz, Emmari Gildenhuys en Isabel Coetzee.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'