RIVERSDAL NUUS - Inbrake by motors neem toe in Riversdal, sê die plaaslike polisie. En dit gebeur helder oordag, nie net as dit donker is nie.
Sers. Christiaan Jansen, plaaslike polisiewoordvoerder, sê mense is laks as dit kom by waardevolle items wat hulle oop en bloot in hul motors los terwyl hulle gou inkopies gaan doen of dalk iets by 'n restaurant gaan eet.
"Kosbare items soos handsakke, beursies, selfone en sonbrille wat openlik in 'n motor rondlê, sal 'n persoon met lang vingers soos 'n magneet aantrek."
Hy sê daar word weekliks gevalle aangemeld waar motors se ruite oopgebreek word om waardevolle items wat rondlê te gryp.
Hy het inwoners gemaan om geen waardevolle items openlik in 'n motor te los nie. As jy dit nie kan of wil saamneem nie, sluit dit in jou motor se kattebak toe waar niemand dit kan sien nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’