ALBERTINIA NUUS - Die St Lukes-moedersunie van Albertinia het Sondag, 30 Mei hulle 80ste bestaansjaar by die St Lukes Kerk herdenk.
'n Herdenkingsdiens is gehou en die St Lukes-brigade het 'n pragtige lied gespeel.
Die unie is in Mei 1941 deur diakones Julia Gilpin van Riverdal, asook Maria Vaaltyn, Maria Saayman, Annie Tarentaal, Elizabeth Saayman, Johanna Kannemeyer, Jolinda China en Hilda Robertson gestig.
St Lukes en St Mary's Grootzoutpan het op 7 Junie 1995 onder leiding van Katrina Saayman saamgesmelt.
Volgens Elsie Michaels is die moederunie 'n wêreldwye Christelike organisasie wat na gesinslewe, huwelike en minderbevoorregte families in nood uitreik. Hulle hou gereeld bidure by siekes en bejaardes.
Vaders Noel Weber van Riversdal en Keith Muller van Mosselbaai het gelukwense en die seën oor die toekoms van die moedersunie uitgespreek. Die oggend is met tee en 'n soetigheid saam met die St Lukes-brigade, eerwaarde Annie Saayman, asook leiers van die verskillende organisasies binne die kerk afgesluit.
Die St Lukes-moedersunie is voor, van links Anna Pietersen, Maria Saayman, Johanna Oktober, Elsie Michaels en Johanna Vaaltyn. Middel: Daphnè September, Elize Pietersen, Satah Scholtz en Dina Saayman. Agter: Vader Noel Weber en eerwaarde Annie Saayman. Foto: Heinrich Fortuin
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'