Gallery Update Video
STILBAAI NUUS EN GALERY - Aan die Weskus veral sê vissermanne "die snoek het geloop". Hoewel dit nie letterlik die geval op Melkhoutfontein se sportgronde was nie, kon feesgangers darem heerlik aan gebraaide snoeke smul.
Dit was natuurlik met die Snoek- en Patatfees wat Saterdag, 23 April plaasgevind het.
Die geleentheid was 'n gesamentlike poging van Stilbaai-polisie, die plaaslike gemeenskapspolisieforum (GPF) en die Faith Community Church.
FOTOGALERY: Snoek-en Patatfees bring opwinding
Die opwinding het hoog geloop terwyl die feesgangers by die ingang na die sportgronde gewag het vir Eleanor Appollis om die lint te knip om sodoende die fees oop te verklaar.
Sersant Chrissie Lewaks het gesê dat hierdie fees soos 'n troue is - die polisie en GPF se troue met die gemeenskap. Soos in elke huwelik moet daar elke dag nou saamgewerk word aan die huwelik om dit te laat slaag. Hulle begin nou bou aan die toekoms.
Alison Bryant, voorsitter van Stilbaai GPF beskryf Lewaks en Christel Cloete, projekkoördineerder van die GPF as haar linker- en regterhand en sy bedank die feesgangers vir die opkoms.
VIDEO - Snoeke loop by snoek- en patatfees
"Hierdie is die eerste van vele feeste en my wens is dat dit nou 'n jaarlikse instelling sal word," het sy gesê.
Die kosstalletjies se tafels het onder die soetkoekies en talle ander lekkernye gekreun.
Daar was ook vrugte en groente om van te kies en te keur en die vure het hoog gebrand om die snoeke te braai.
'n Fees is nie 'n fees sonder musiek nie en Melkhoutfontein se eie Delivering Hope het van vroegoggend die een na die ander treffer gesing wat oor die sportgronde weergalm het.
Indien iemand in Melkies nog nie van die fees bewus was nie, sou die musiek hulle wel lok.
Kaptein Johan van Tonder, Stilbaai-polisie se stasiebevelvoerder het die verwelkoming gedoen en gesê dat dit geleenthede soos hierdie is wat die gemeenskap saamsnoer.
Renee Davids, wyksraadslid vir Melkhoutfontein het die organiseerders bedank en gesê dat hierdie 'n wonderlike geleentheid is.
Melkhoutfontein se drilpeloton het deur hulle passies gegaan met Cloete wat soos 'n ware samajoor die bevele geskree het.
Die trompoppies het besluit hulle kan beter doen en die feesgangers het hulle luid aangemoedig.
Die Kalliklip Stoftrappers, 'n rieldansgroepie het spesiaal van Calitzdorp gekom om die Melkhoutfonteiners te wys hoe rieldans eintlik gedoen moet word en hulle het glad nie teleurgestel nie.
Hulle kan omtrent vir jou stoftrap en jou voete laat jeuk.
Teen hierdie tyd het die reuk van snoek wat braai al oor die hele feesterrein gehang en mense het ongeduldig begin rondkyk na die opskeppunte.
Die Werk vir Vuur (Working On Fire)-span van Nelspruit wat tans in die Stilbaai-omgewing diens doen, se drilvertoning het die mense egter terug laat stroom na die rugbyveld en hulle het die skare op hulle voete gehad met die vertoning.
Hulle kan omtrent vir jou stoftrap en jou voete laat jeuk. Foto's: Johan Victor
Talle ander items is gelewer en die snoek het nie teleurgestel nie.
Daar is omtrent 400 kaartjies verkoop en volgens Cloete het nog mense kom vra vir snoek.
Ongelukkig moes die laatslapers maar tevrede wees met slegs die heerlike reuk daarvan. Te oordeel na die reaksie kan hierdie beslis 'n jaarlikse instelling word en dit kan groei tot 'n ware Hessequa-fees.
Cloete, Lewaks en Bryant kan hulself op die skouer klop met hierdie grootse poging wat uiters suksesvol was.
Vorige artikel: Melkies hou snoek - en patatfees
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'