Gallery Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Ongeveer 1 300 mense van Melkhoutfontein en Stilbaai het Donderdag 30 November saam aan die langste tafel in Rooipitjieweg in Melkhoutfontein gesit en 'n ete geniet.
Volgens Jenny Olivier, wat dié inisiatief drie jaar gelede vir die eerste keer van stapel gestuur het, het selfs meer mense as die vorige jaar die 'Langtafel van Vrede' ondersteun en gesellig saam verkeer.
Dit is vanjaar weer deur Badisa, Ouma Lena se Huis en die plaaslike polisie georganiseer.
Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, het 'n bewys van dankbaarheid aan past. Jan Kleynhans en eerw.
Susan Roode oorhandig, waarna hy die gaste ernstig toegespreek het oor die belangrikheid van gesonde huishoudings.
Die gasspreker was Anthony Hall, stigter van R.A.E.L. (Recovering Addicts Empowering Lifes) en dié nie-winsgewende organisasie se rehabilitasieplaas, House of Davnik wat ook die Wêreldverslawingsdag (21 September) gestig het en wat eens 'n lid van die dwelmvoorkomingseenheid (Sanab) en moord- en diefstalspeurder was, maar later alles verloor het as gevolg van alkohol en dwelms.
Hy het oor die euwels van verslawing gepraat en sy ondervinding as spreker by die vredestafelgeleentheid as 'n hoogtepunt in sy loopbaan beskryf.
Kyk, ons word afgeneem...
Die Afrikaanse hip-hop-kunstenaar, Hemelbesem (Simon Witbooi) was ook 'n gasspreker en het Vrydagaand by die Melkhoutfontein-sportterrein opgetree.
Hy het na die tyd op sosiale media gesê: "Die mense van Melkhoutfontein het spesiaal opgetrek om my te sien perform.
"Geen opening acts en niks nie. Net ek… daunting, maar sielsbevredigend."
Hy het die hutsmerke #WhatAShow #mooimense #mooiharte en #teljouseeninge gebruik om sy ervaring te beskryf.
Sangvertonings deur Stilbaai se Madré Hansen, asook die Riversdal-orkes Simply Smooth het tot die vrolike atmosfeer bygedra.
Die kos is deur verskeie organisasies behartig met Stilbaai Spar wat al die hoender geskenk het, terwyl Stilbaai Slaghuis die frikkadelle voorsien het.
Rdl. Grant Riddles en die hip-hop-kunstenaar, Hemelbesem.
Melkhoutfontein se Huis Soeterus was vir die aartappelslaai verantwoordelik, Huis Stilbaai het die rysslaai voorberei en die AGS Kerk het 65 koppe kool verwerk om genoeg koolslaai voor te kon sit.
Die hele gemeenskap het bygedra tot die 1 300 kolwyntjies as nagereg.
"Dit is 'n ware gemeenskapsprojek waar hande gevat word en brûe gebou word," het Olivier gesê.
Lees 'n vorige artikel: Vredestafel lok meer as duisend
ARTIKEL & FOTO'S: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'