HESSEQUA NUUS - Hoërskole waar matrikulante met die eindeksamen besig is, blyk gereed vir beurtkrag te wees.
"Die Hoër Landbouskool Oakdale het hul eie krag-opwekker en maatreëls is in plek om seker te maak dat daar geen ontwrigting sal wees nie," sê Marlene Carstens, woordvoerder.
Volgens mnr. Richard Flores, hoof van Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool beskik die skool nie oor 'n kragopwekker nie. "Gelukkig word geen vakke aangebied wat elektrisiteit benodig om eksamen te skryf nie," sê hy.
"Die skoolsaal se natuurlike beligting sal voldoende wees vir kandidate om hul vraestelle te lees en te skryf.
"Dit wat na die eksamensessie elektronies gedoen en weggestuur moet word, sal met die Wes-Kaap Onderwysdepartement gekommunikeer en die volgende dag versend word wanneer die krag weer aan is."
Dieselfde geld vir Kairos Sekondêre skool, sê die hoof mnr. Vivian Prins. "Ons bied nie rekenaarvakke aan nie en die saal het voldoende beligting."
Hoërskool Langenhoven op Riversdal sal ook op natuurlike lig in hul skoolsaal staat maak, sou dit nodig word. Die hoof, mnr. Piet de Villiers wys daarop dat rekenaarverwante vakke reeds afgehandel is.
Volgens die hoof van Hoërskool Heidelberg, mnr. Johan Eygelaar, het hulle 'n kragopwekker gereed indien beurtkrag in eksamentyd toeslaan.
Me. Anneli Booyens, waarnemende hoof by Hoërskool Albertinia, voorsien eweneens geen probleem met voldoende lig vir die leerders in die skoolsaal nie.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'