Update
RIVERSDAL NUUS - Die massasterilisasie van honde in die Riverville-stadion begin op Maandag 9 Oktober en duur tot Woensdag 11 Oktober.
Dié veldtog word jaarliks deur die Community Animal Rescue Society (CARS) aangepak om te verseker dat ongesteriliseerde honde nie blindings aanteel nie.
Daar is plek vir slegs 150 diere. Indien jy in Riversdal woonagtig is en jy wil graag jou troeteldier steriliseer kan jy CARS se voorsitter, Sandra Lotz, kontak.
Ongelukkig kan geen hond net gratis gesteriliseer word nie en moet elke eienaar iets bydrae. Hul behoeftes sal gemeet word volgens hul inkomste en daarvolgens sal bepaal word wat hul bydrae kan wees.
Dit sal steeds honderde rande goedkoper wees om jou troeteldier te laat steriliseer as om 'n werpsel klein hondjies aan te hou en behoorlik te voed en te versorg.
CARS sal mense sonder vervoer help om troeteldiere by hul huise op te tel.
Sandra sê om te kwalifiseer moet elke dier se eienaar individueel aansoek doen deur hul naam, van, adres, selfoonnommer, dier se geslag en naam vir haar te WhatsApp. Slegs diere wat op die lys is sal gesteriliseer word.
Omdat CARS grootliks van donasies en bydraes uit die gemeenskap afhanklik is, doen sy 'n beroep op die gemeenskap om te help met, onder andere, die vervoer van diere. "Ons het ook helpers nodig om die diere te monitor ná sterilisasie.
"As besighede of inwoners ook kan help met 'n kontantbydrae sodat ons brandstof kan aankoop vir die vervoer van die diere na en van hul huise. Dis beloop nogal 'n aardige bedrag."
Skakel of WhatsApp vir Sandra by 082 962 1831.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’