Update
STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Stappers het Saterdag 4 Februarie Sleeping Beauty in die maanlig uitgeklim.
Sewentien stappers van Stilbaai en Riversdal-omgewing het Saterdag om 18:00 vanaf die Ou Tolhuis begin klim na die piek by Sleeping Beauty.
Volgens Derek Odendaal van Stilbaai, wat die staptog gereël het, was heelwat van die stappers 65 jaar en ouer, maar hulle het in lekker weer gestap en almal het dit tot bo gemaak.
Teen 20:00 het hulle in volmaan gestap en was dit baie veeleisend. Hulle het meer as 900 m geklim en moes alles wat hulle nodig gehad het saamdra.
Sondagoggend bo-op Sleeping Beauty. Hier kan duidelik gesien word hoe ongemaklik daar geslaap is.Foto: Derek Odendaal
Dit het slaapsakke, tentjies, kos en water ingesluit aangesien daar geen water op die berg is nie.
Die groep was egter teen 22:00 bo en kon kamp opslaan. Derek sê dit is maar baie ongelyk en rof bo-op die berg en hulle het baie moeilik geslaap.
Dit was egter alles die moeite werd toe hulle Sondagoggend om 06:00 wakker word en die son opkom met die digte mis wat in die laagtes hang. Hy sê dit was vir hulle 'n heilige oomblik en iets wat hulle nooit sal vergeet nie.
Bo-op Sleeping Beauty met die son wat opkom. Foto: Jacomi Odendaal
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'