Update
RIVERSDAL NUUS - Twee asmalyertjies van Riverville het onlangs verstuiwingstoestelle (nebulisers) ontvang om hul asemnood te verlig.
"Marciano is babatyd al met asma gediagnoseer," vertel Dandelene Rich, ma van die woelige tweejarige seuntjie. "Elke keer wanneer hy nie asem kry nie, moet ons haastig by die hospitaal uitkom. Dis nie altyd moontlik nie, want ons het nie vervoer nie. Vier maande gelede het hy amper gesterf van die slym op sy bors - ons is van die hospitaal hier met 'n ambulans na George-hospitaal toe geneem," vertel sy.
"Dis bitter as 'n mens dit nie kan bekostig nie - die Here is net goed vir ons," het sy gesê terwyl trane van dankbaarheid oor haar wange stroom.
Alicia Hofman se seuntjie KJ is sewe maande oud. "Elke keer as hy verkoue kry, trek sy bors toe. Ons het 'n asmapompie, maar as dit erg raak moet ons lank vir 'n ambulans wag om ons hospitaal toe neem, want ons bly ver. Ek is baie bly oor die masjien wat my en my kind se lewe makliker gaan maak."
Volgens haar is KJ se asma oorgeërf, maar hy is ook gevoelig vir suiker, melk, stuifmeel en veral mistigheid. "As die mistigheid oor die dorp hang, trek sy bors toe."
André Pieterse, wat die skenking inisieer het, se dogtertjie Ava is ook 'n asmalyer. "Ons het gelukkig 'n mediese fonds wat ons kan help om onkoste te dek, maar nie almal het die voorreg nie. Ek het van die twee kinders gehoor en die maatskappy in Johannesburg wat mediese toerusting verskaf, genader. Hulle het die twee verstuiwingstoestelle geskenk."
"Hierdie masjien kan 'n kind se lewe red," vertel Tony Taylor, 'n tuisversorger-deskundige van Hartenbos wat die maatskappy, wat onlangs ook 'n verstuiwingstoesel en mobiele suurstofeenheid aan twee kinders in George geskenk het, verteenwoordig.
Lees 'n vorige artikel hier: Skenking kan kleuters se lewe red
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'