Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Ma wat op 21 September haar 10-jarige kind tydens 'n motorongeluk afgestaan het, het haar hart vir Suid-Kaap Forum oopgemaak.
"Ek kan nie snags slaap nie - al waaraan ek dink is Kenthlan," sê Irene Albertyn.
Die gedagte aan haar beseerde kind op die ongelukstoneel spook by haar.
"Die ergste is dat hy gely het. Hy het deur die lug getrek. Die bestuurder het hom (na bewering) opgetel en eenkant neergesit - hy het klaar seer gehad..."
Kenthlan en vier maats het die Saterdagoggend op die Kruisrivierpad sowat 5 km buite die dorp in die pad fietsgery en gestap. 'n Bakkie het vir een kind op 'n fiets uitgeswaai, maar Kenthlan op sy fietsie getref. Hy het op die toneel gesterf. Volgens die nadoodse ondersoek het hy aan kop- en borsbeserings beswyk.
Albertyn vertel Kenthlan was nie Vrydagmiddag by hul huis in Melrose Place toe sy na werk daar aankom nie. "Ek was nie bekommerd nie, want ek het geweet hy is seker by sy oupa, Paul Albertyn se huis in Môrestond. Sy oupa het hom grootgemaak van hy sewe jaar oud was." Hy en haar suster Shahida sien dikwels ook na haar jonger kinders, Idonia (6) en Heinorique (3) om terwyl sy werk.
Albertyn het die Saterdag soos gewoonlik van 08:00 tot 17:00 gewerk. Omstreeks 12:00 het 'n onderwyser van Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool by haar werk opgedaag. "Hy het gesê my seuntjie is raakgery en hulle het my op die toneel nodig. Ek wou nie gaan nie, ek wou nie my beseerde kind sien nie. Ek wou net weet of hy orraait is. Ek het gevra die onderwyser moet my pa en suster ook bel, want ek wou nie alleen na die ongelukstoneel gaan nie. Toe ons daar kom, het ek my kop met my baadjie toegegooi - ek wou hom nie so sien nie."
Haar ma, Winnifred, was ook op die toneel. "Toe ek haar vra of hy nog lewe het sy net geantwoord: 'Nee'."
Dit maak haar klaar dat die saak so lank sloer. "Ek is ongelukkig dat ek so lank na die ongeluk niks van die polisie gehoor het nie." Uiteindelik is sy na die polisiekantoor toe om uit te vind wat met die ondersoek gebeur.
"'n Ondersoekbeampte was op Dinsdag 22 Oktober - 'n maand na my kind se dood - hier om my verklaring te neem. Hy het ook die verklarings van die kinders geneem. Ek wil nie die kinders sien of met hulle praat nie, dit maak my te hartseer.
"Ek wil presies weet wat daar gebeur het en wat nou verder gaan gebeur. Ek soek net justice vir my kind."
Ao. Boer van Rensburg, die ondersoekbeampte het aan Suid-Kaap Forum gesê dat alles in hul vermoë gedoen word om die ondersoek so gou en deeglik moontlik af te handel.
Lees vorige artikels:
- Ma stort hart uit oor seun se dood
- Troosdiens vir twee seuns
- Hartroerende troosdiens vir leerders gehou
- Botsing knip drie jong lewens kort
- N2 closed between Albertinia and Riversdale
- Ongeluk op N2 Albertinia
- Opvolg: Begrafnisreëlings vir jong ongelukslagoffers bekend
- Fietsongeluk ruk gemeenskap
- Kind noodlottig in ongeluk beseer
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'