Update
HEIDELBERG NUUS - Die ma en dogter wat van die dubbele moord op 'n man en vrou van Diepkloof aangekla word, het Dinsdag 25 Februarie weer in die hof verskyn.
Die saak teen Sabina Hartnick (54) en haar dogter, Annemarie Skietekat (31) is tot Maandag 11 Maart uitgestel. Albei word in die gevangenis op Oudtshoorn aangehou.
Woedende inwoners het weer, soos met hul vorige verskyning, voor die plaaslike landdroshof saamgedrom om hul weersin te toon oor die koelbloedige moord op die bejaarde paar Vrydagnag 15/16 Februarie.
Die slagoffers, George (Jors) Michaels (62) en sy vriendin, Elizabeth (Elie) Rudolph (64) is dood in Michaels se huis in Diepkloof aangetref. Hulle is blykbaar deur 'n vorige vriendin van Michaels, Sebina Hartnick (54) en haar dogter, Annemarie Skietekat (31) om die lewe gebring. Michaels is verlede jaar ook ernstig met 'n mes deur Hartnick aangerand. Die plaaslike polisie is deur 'n buurvrou ontbied nadat Hartnick haar gaan vra het om dit te doen. Hulle was net na middernag op die toneel, waarna hulle eers die ma en later die dogter in hegtenis geneem het.
Volgens ao. Alroy Windvogel, plaaslike polisiewoordvoerder, het Michaels en Rudolph verskeie steek- en snywonde aan hul liggame gehad. Albei se neuse was ook lelik gesny. "Rudolph het ook drie brandwonde aan die bokant van haar geslagsdele gehad wat waarskynlik met 'n sigaretstompie toegedien is." Hul kiste was nie tydens die huis- en kerkdienste oopgemaak nie, omdat die oorledenes se gesigte geskend is.
Hartnick en Skietekat het Maandag 18 Februarie vir die eerste keer in die hof verskyn en was die saak tot Dinsdag 26 Februarie uitgestel sodat hulle om regshulp aansoek kan doen. Hartnick het dieselfde dag op 'n vorige klag van aanranding op Michaels met die opset om ernstigte beseer, verskyn. Vir dié aanklag is sy tot drie jaar tronkstraf opgelê. Ma en dogter het in trane uitgebars tydens die vonnisoplegging. Rudolph was vir die afgelope 12 jaar as huishulp in diens van Windvogel en sy vrou, Cathy.
Lees vorige artikels hier:
’n Polisieman boei Sebina Hartnick, terwyl haar dogter, Annemarie Skietekat (in die blou top) en nog ’n ander beskuldigde geboei staan.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'