ALBERTINIA NUUS - 'n Ma en dogter van Albertinia samel wol in om komberse vir diere-instansies te brei. Die wolkomberse word in diere se hokke gesit om hulle warm te hou hierdie winter.
Hannelie Pretorius (37) en Rina Pretorius (66) sit graag hul vrye tyd om, elk met breipenne in die hand. Hannelie sê sy en haar ma is nog altyd lief vir brei maar die brei-gogga het haar gebyt nadat haar geliefde kat dood is. "Ek het my kat vreeslik gemis en het toe besluit om warm komberse vir diere te brei. Dit het die gemis beter gemaak en dit is lekker om te weet ons doen iets vir diere."
Hannelie sê enige tipe wol is welkom. "Ons gebruik elke stukkie om mee te hekel of te brei en dan word die blokkies aanmekaar vasgewerk." Volgens Hannelie is ou wol ook welkom asook items soos serpe en truie wat losgewerk kan word.
"Inwoners wat ons wil help om te brei en te hekel kan met graagte by ons aansluit." Hannelie sê sedert hulle met die projek begin het, is meer as 100 komberse al gebrei. "Ons het die eerste stel komberse aan die Hartenbos Dierehospitaal geskenk.
Daarna het ons komberse afgelewer by diereklinieke op Stilbaai, Riversdal en Swellendam. Dit is ook intussen verder die provinsie in versprei na ander diereklinieke."
Rina Pretorius
Wol kan geskenk word aan die Hartenbos Dierehospitaal, Boekenhoutlaan, Hartenbos Heuwels.
Merk die wol: Hanri Dierekombersieprojek.
Yolanda Swart van die Hartenbos Dierekliniek sê die komberse laat die hele kliniek sommer vrolik lyk. "En dit laat ons dierepasiënte sommer vinniger gesond word."
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'