STILBAAI NUUS - Vir baie kinders was die Rademans se huis in Deiningstraat, Stilbaai die afgelope 16 jaar die plek waar Kersvader woon.
Tom en Linda het egter besluit om aan die einde van 2019 vir die laaste keer die liggies af te skakel.
Volgens Linda het hulle die skakelaar met 'n knop in die keel gedruk: "Sommige van ons besoekers was as klein kindertjies hier en het al vir ons hul kinders kom wys. Dit was vir ons 'n tradisie en 'n leefwyse, maar ons word ouer en die liggies word al hoe duurder."
Tom vertel die ding het begin toe hulle jare gelede pragtige liggies op 'n groot uitstalling gesien het. Hulle het klein begin, maar mense wat dit gesien het wou betaal om in die tuin rond te stap en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.
Linda vertel hoe haar man eers as Kersvader vir die buurt opgetree het, maar al hoe meer vreemdelinge het begin opdaag. 'n Kersvaderpop met 'n tweerigtingradio onder die kraag is ingespan om oor te neem. Tom het vanuit die slaapkamer oor die radio die kinders se name gevra. Linda het naby rondgestaan en wanneer die naam gesê is, moes sy kamer toe draf om dit aan haar man oor te dra.
Dit het veeleisend geraak en Tom het self die rol van die man met die baard oorgeneem.
Hulle het die liggies met 'n fonds-insameling vir Huis Stilbaai gekombineer. Die bedrag het elke jaar gegroei en hulle hoop dat die laaste oorbetaling 'n rekordbedrag sal wees.
Die liggiehuis. Foto's: Deona Aucamp
Kersvader se slee het geland. Foto: Deona Aucamp
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'