Update
SUID-KAAP NUUS - Daar heers kommer oor die invloed wat Moody's se afgradering van LandBank tot rommelstatus op landboufinansiering gaan hê.
"Die afgradering het direkte implikasies vir landbou en kan 'n wyer impak op die ekonomie hê," het Nicol Jansen van Agri SA op Woensdag 22 Januarie gesê.
"LandBank se langtermyn volhoubaarheid en sy vermoë om sy mandaat uit te voer, word nou as meer riskant beskou, wat sy toegang tot finansiering moeiliker en duurder maak."
Omdat landbou siklies van aard is en boere nie 'n vaste, gereelde inkomste verdien nie, maar eers aan die einde van die oes hul geld kry, is hulle van finansiering afhanklik om hul kontantvloei aan die gang te hou.
"As gevolg van die droogtetoestande is menige boere reeds onder groot druk en dié bank se verhoogde koste sal na die boere-kliënte afgewentel word, wat kredietkoste sal verhoog. Talle landboubesighede het ook hul leningsboeke aan die LandBank verkoop en so dié bank se rol in die landboukredietstelsel vergroot. Dit beteken boere wat produksiekrediet via hierdie agribesighede verkry se kostes kan verhoog. Dit plaas verdere druk op boere se finansies en volhoubaarheid. Dit hou ook risiko's vir die res van die waardeketting in en dit is dus moontlik dat verbruikers uiteindelik hoër pryse sal moet betaal," aldus Jansen.
"Dit raak voortdurend moeiliker om 'n positiewe gesindheid oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika te hê en nou word hulle nog verder in skuld gedompel deur 'n afgradering van die LandBank wat vir die meerderheid boere krediet verskaf," het Louis Meintjes, die president van TLU SA, in reaksie gesê.
"Dit pla dat daar gesê word die staat kan LandBank nie help nie," sê Bennie van Zyl, bestuurder van TLU SA. "Almal weet dat die staat so te sê bankrot is en dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan hul beleidsomgewing en die mense wat die verskil moet maak wat op al die vlakke aangestel is. Iewers moet ons eerlik raak oor dit wat ons land nie vorentoe laat gaan nie - soos LandBank."
Volgens Henry Meyer, leierboer in die Suid-Kaap, het LandBank reeds voor die aankondiging subtiel 'n 'ongenaakbare' houding ingeslaan. "Dit blyk Landbank is taai om uitstel te gee of leentermyne te verleng," sê hy. "Boere wat swak graanoeste gehad het, het LandBank blykbaar genader om hul lening by die landboubesigheid teen 'n laer rentekoers oor te neem, maar LandBank het nie belang gestel nie."
Hy meen die afgradering kan ernstige gevolge inhou. "Dis 'n wonder dat ons nie lankal LandBank-bankrotveilings gesien het nie. Dit is een manier om ons van ons grond af te kry en deur die boere nie meer kans of uitstel te gee nie, kan dit bewerkstellig word."
IN SHORT
Moody's downgrading of LandBank is a concern for farmers as it may imply more expensive loans. Some farmers believe the downgrading is a result of ineffective management.
Lees 'n vorige artikel: Landbank se afgradering wek kommer
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'