Update
RIVERSDAL NUUS - Onderwys by Laerskool Volschenk op Riversdal gaan normaal voort na 'n leerkrag positief vir Covid-19 getoets is.
Nog 'n onderwyser is onder isolasie.
Die skool het Woensdagoggend, 21 Oktober die versekering gegee dat die skool se bestuur die situasie onder beheer en dat die department van gesondheid reeds vroeg vanoggend die skool besoek het.
Covid-19-voorsorgmaatreëls word streng by die skool toegepas.
Nadia Ferreira, woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid het gesê: "Met enige nuwe geval(le) tree die kontakopsporingsspan in kontak met die positiewe geval, asook nabye kontakte. As gevolg van pasiëntvertroulikheid, kan ons nie meer inligting deurgee nie."
Die Wes-Kaapse department van onderwys (WKOD) se kommunikasiebeampte, Kerry Mauchline het gesê wanneer 'n bevestigde saak aangemeld word, word 'n standaardprotokol gevolg. Dit sluit in dat die geaffekteerde individu moet afsonder, direkte kontakte moet isoleer en die gebied waar die betrokke persoon liggaamlik aanwesig was, moet ontsmet word.
"'n Bevestigde Covid-19 geval vereis nie noodwendig dat 'n skool gesluit moet word nie. In elke geval sal 'n aantal faktore in ag geneem word by die neem van die besluite," verduidelik sy.
Mauchline sê as 'n personeellid byvoorbeeld net in een of twee kamers was, is dit moontlik om met die skool voort te gaan deur die kamers af te sluit en te ontsmet. "Aan die ander kant, as die personeellid oor die hele skool werksaam was, sal meer gebiede gesuiwer moet word, wat tydelike sluiting benodig.
"Die datum waarop die personeellid of leerder laas by die skool was, is belangrik. Die NICD en die departement van gesondheid het ons meegedeel dat die virus nie langer as 72 uur op oppervlaktes oorleef nie. As 'n personeellid byvoorbeeld langer as 'n week vantevore by 'n skool was, is dit nie nodig om 'n oppervlak te ontsmet nie."
Sy verduidelik dat die aantal direkte kontakte ook in ag geneem word. "Ons moet duidelik onderskei tussen direkte (noue) kontak en informele kontak. Direkte kontak behels dat jy fisies baie naby aan iemand is, of deur 'n drukkie of 'n handdruk te gee. Dit is belangrik dat ons direkte kontak tot die minimum beperk, soos vereis deur fisiese distansieringsprotokol. Slegs die direkte kontak van 'n bevestigde saak hoef tot 14 dae vanaf die datum van die laaste kontak te isoleer."
Volgens Mauchline is om net in dieselfde kamer as 'n bevestigde geval te wees, toevallige kontak as die vereiste vir fisieke afstand van 1.5 meter was. "Toevallige kontakte hoef nie te isoleer nie, maar dit moet dopgehou word vir enige simptome van Covid-19."
As slegs 'n handjievol personeellede by 'n skool moet afsonder, is dit nie nodig om 'n skool te sluit nie. As daar van 'n groot aantal personeellede vereis moet word, kan dit 'n invloed op die vermoë van 'n skool hê om met onderrig en toesig voort te gaan.
As dit wel gebeur, moet die WKOD-departementshoof toestemming verleen om die skool te sluit. Die meeste skole wat moet sluit om gereinig te word, doen dit slegs 'n dag of twee voor hulle weer oopmaak.
Vorige artikel: Leerkrag positief vir Covid-19
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'