RIVERSDAL NUUS - David Johnson (72), of oom Dawie soos hy alombekend is, het weereens enorme patats uit sy groentetuin gehaal.
Meeste van dié patats het hy aan liefdadigheid geskenk. Hy en sy vrou Lien (70) plant al saam-saam groente vir meer as 30 jaar.
David het onlangs by die dood omgedraai en in die hospitaal beland. "My bloeddruk was baie hoog en ek het boonop suikersiekte ontwikkel. Ek was baie siek en het bykans twee weke lank in die hospitaal gebly. Ek is so dankbaar vir 'n tweede kans. Vandag is ek gesond en op en wakker."
Hoewel hy en sy vrou die groentetuin deel, was hy nie baie ingenome met haar toe sy 'n reusepampoen begin kweek het nie. "Die pampoen rank die hele wêreld vol en dan is daar nie genoeg plek om ander groente te plant nie," het hy vertel.
Volgens Lien was dié pampoen haar trots. "Ek het met hom gepraat soos wat ek met 'n mens sal praat. Ek het hom Goliat genoem en hom elke oggend gegroet, 'goeiemôre Goliat' en Goliat het gegroei," het sy gesê.
David kan onthou dat hy as kind saam met sy pa op die plaas gewerk het. Sy pa het hom alles van groente plant en ander tuinwerk geleer.
"Ek is nog altyd lief daarvoor om in die tuin te werk. Of ek nou groente of blomme plant, ek geniet dit. Ons het jare gelede hier op die dorp begin groentetuin maak en ons plant nog tot vandag toe."
Die egpaar het onlangs 'n wateropgaartenk as geskenk ontvang. Hulle is baie dankbaar daarvoor en kan nou meer groente plant.
Hy maak sy eie kompos wat hy in die grond inwerk en hy glo dat die grond gedurende die winterseisoen moet stil lê omdat dit moet 'rus'.
Buiten patats plant hulle aartappels en groenbone en Lien beoog om weer 'n wenpampoen te kweek wat sy vir die Heidelberg-pampoenfees kan inskryf.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'