Update
STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-afdeling van die Hessequa-kunsroete, onder leiding van Sonja Margerison het 'n Art on the Move-projek begin.
Een van die kunsroete se missies is om openbare spasies te verfraai, om hoop vir kunstenaars te gee en positiewe bewusmaking van die kunste.
"Kuns verskaf vreugde, hoop en kleur, veral nou in die moeilike omstandighede tydens die pandemie," Soos Sonja self vertel:
Met die opgradering van die Melkhoutfontein-sportgronde was hierdie die ideale geleentheid om die mure om die sportveld te verfraai. Op versoek en ondersteuning van Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa, het kunstenaars van Melkhoutfontein en Stilbaai ingespring om hierdie projek van stapel te stuur.
Fase 1 van die projek is die muur aan weerskante van die ingang en 'n stukkie van die gemeenskapsmuur. Die voorste muur is die sportmuur, wat met sporttonele verfraai word. Die gemeenskapsmuur, of te wel die muur van hoop, liefde, vrede en vreugde, sal in oorleg met die gemeenskap versier word en hier is hulle insette baie belangrik. Dit sal onder andere al die belangrike en noodnommers op prominente plekke hê.
"Dit is soos 'n telefoongids in die vorm van prente. Daar sal ook prentjies wees waar kinders en selfs volwassenes kan staan om oulike selfies te neem. Fase 1 behoort teen middel Oktober vanjaar voltooi te wees," het Margerison gesê.
Van die kunstenaars wat die projek ondersteun, is Jeandré Viljoen, Nadia Rabie, Sonja Margerison en Christo Galant.
Die muur bestaan uit 250 blokke, 1.8 meter hoog en 1.2 meter breed. Al die kunstenaars betrokke gee hul talente en tyd vrywillig aan die projek. Dit is ook deel van vrywillige kunsopleiding. Omdat die groepie kunstenaars nie die projek uit hulle eie sakke kan finansier nie, het 'n paar borge in samewerking met Hessequa-munisipaliteit hulp aangebied om dit te ondersteun.
As gevolg van die grootte van die projek, word nog spuitverf en buiteverf benodig. Belangstellendes kan vir Margerison (072 222 4168) skakel vir enige bydrae, groot of klein.
Vorige artikel: Projek bied hoop vir kunstenaars
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'