TUINROETE NUUS - Al ooit gedroom om oor die "lengte van Afrika" te hardloop? Op 23 Oktober kry atlete geleentheid om aan 'n unieke wedloop by een van die Tuinroete se bekendste toerismebakens, Kaart van Afrika, deel te neem.
Die organiseerders is Alewijn Dippenaar van Thousand Sensations en Bruce Jackson, een van die eienaars van die plaas waarop die Kaart van Afrika geleë is. Dit sal plaasvind onder streng Covid-19-regulasies as dit in daardie stadium nog van toepassing is.
Die wedloop staan bekend as, Cairo to Cape and back, en sal oor 'n afstand van sowat 21km plaasvind.
Die gedagte is dat die atlete by die noordelike punt, "Kaïro" sal wegspring en dan suidwaarts deur die bosse na "Kaapstad" sal hardloop en terug.
Die plaas, een van die oudstes in die gebied, het oorspronklik bekendgestaan as Pampoenkraal. Deesdae is dit bekend as Woodifields. In die 19de eeu, lank voor die Kaaimanspas bestaan, het die enigste roete in die gebied daaroor gegaan.
Die huidige eienaars, die Jackson-familie, het die stuk grond in 1957 gekoop. Die ingang is suid van die Nelson Mandela Universiteit, voorheen Saasveld, George.
Die aanloop tot die wedloop kom 'n lang pad. Dippenaar en Jackson ken mekaar al 10 jaar en het oor die jare goeie vriende geword.
Volgens Dippenaar is daar twee jaar gelede besluit om dele van die grond skoon te maak van indringerplante en paaie oop te maak vir noodvoertuie om toegang te kry wanneer dit nodig sou wees. Daar is toe besef dat die paaie aangewend kan word vir veldwedlope.
Dippenaar het gesê die grond het kultuurhistoriese waarde. Dit is ook belangrik uit 'n omgewingsoogpunt. Daar is al byvoorbeeld jagluiperds in die gebied gesien.
Dit vorm ook deel van planne om Woodifields as 'n avontuur mekka te vestig. Dit is moontlik dat skermsweef (paragliding), kloofing en kampering ook later daar aangebied kan word.
Kaart van Afrika waar die unieke wedloop op 23 Oktober gaan plaasvind.
Met die wedloop sal lede van die publiek toegang kan kry tot die besonderse stuk aarde. Die plan is dat 300 atlete sal kan deelneem. Daar word beplan om plekname en lande se bordjies op die roete aan te bring. Deelnemers sal dan kan sien wanneer hulle 'n spesifieke "land" inhardloop.
Plaaslike en nasionale orkeste sal die dag van die geleentheid optree en stalletjies met verversings sal beskikbaar wees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'