Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Student aan die Suid-Kaap Kollege Hessequa-kampus op die dorp is Donderdagmiddag 27 Februarie noodlottig in 'n motorongeluk beseer.
Marinique Theonique Hendricks (18) was saam met 'n medestudent Elicha Stuurman (18), na hul ouerhuise op Ladismith op pad.
Die twee was agterop 'n bakkie. Die bestuurder van die voertuig het na bewering vir 'n koedoe op die pad tussen Riversdal en Ladismith uitgeswenk, beheer verloor en die voertuig het omgeslaan.
Hendricks het weens haar beserings beswyk. Stuurman is met veelvuldige beserings in George-hospitaal opgeneem.
Volgens Hendricks se ma, Fiela, was haar dogter besig met 'n oorbruggingsjaar wat haar sou voorberei om onderwys te gaan studeer, berig Deon Meyer, korrespondent vir Oudtshoorn Courant.
"Sy was my maatjie, ons kon lekker gesels," haal Meyer haar aan. "Sy het belowe om my lewe makliker te maak wanneer sy begin skoolhou. Sy het gesê ek moet dan ophou om nagte by die vulstasie te werk."
Volgens Cobus Smith van Suid-Kaap Kollege was Hendricks besig met 'n kursus in menslike hulpbronne.
"Ons het me. Stuurman se kursus in bestuursonder-steuning gekanselleer omdat sy weens die aard van haar beserings waarskynlik nie die jaar sal kan voltooi nie," het hy gesê.
'n Gedenkdiens is Woensdagmiddag by die kollege gehou. 'n Roudiens word Vrydagaand by Marinique se ouerhuis te Mossiestraat, Ladismith gehou. Die begrafnis vind Saterdag in die saal van Ladismith Sekondêre skool plaas.
Tye was teen druktyd nog nie bevestig nie.
Marinique se ma, Fiela Hendricks van Ladismith, wys foto’s van haar lieflingdogter.
Vorige artikel: Student sterf in ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'