RIVERSDAL NUUS - Dit is met skok en hartseer dat Suid-Kaap Forum op Woensdag, 15 Julie van Keith Eksteen, korrespondent vir die koerant en een van Riversdal se mees bekendste en geliefde inwoners, se dood verneem het.
Die 48-jarige Keith het na 'n kort siekbed van twee weke aan hartversaking in Riversdal-hospitaal gesterf.
Volgens sy niggie, Elima Mhatey wat hy meer as 'n suster beskou het, vertel dat hy sowat twee weke gelede vir haar gesê het dat hy baie moeg word. Hy het toe 'n dokter gaan sien, wat bevestig het dat hy hartprobleme het.
"Hy het my Maandag laat weet om hom te kom sien. Hy het onder meer vir my gesê dat hy sy testament wil verander." Mhatey noem dat sy baie lief vir Keith was en dat hy 'n mense-mens was.
"Hy sou sy laaste vir iemand in nood gee, maar hy was ook baie ferm en het nie geskroom om sy sê te sê nie."
Rdl Chris Tauté, jarelange vriend en ANC-kameraad het benadruk dat Riversdal en Hessequa 'n groot man wat diep spore in die gemeenskap en ANC getrap het, verloor het. "Ek sal jou altyd onthou vir jou onbaatsugtige rol in die opbou van die ANC in Riversdal en groter Hessequa."
Hy het met heimwee verwys dat Keith saam met hom en wyle Lanval Reid, Joan Reid en AK Daries in 1992, net na die ontbanning van die ANC die eerste top 5 van die Riversdal ANC-tak was. "Ons het na die dood van die drie lede mekaar altyd geterg oor wie volgende is. Vandag los jy my alleen oor. Ons gun jou, jou ewige rus, kameraad."
Die stoet motors wag om te vertrek vir die verbyrit. Foto: Deona Aucamp
Oudkollega Emsie Martin wat deesdae by ons susterskoerant, George Herald werk, het ook haar meegevoel uitgespreek. "Ek onthou hoe ek gereeld by jou gaan tee drink het om die regte stories te hoor oor belangrike mense in die bruin gemeenskap, hoe jy jou inligting met my gedeel het, hoe die potte op die stoof gekook het terwyl ons om die tafel deur papiere en notas geblaai en nog tee gedrink het. Jy was 'n pot vol kennis, my vriend. Jy laat verseker 'n groot leemte."
Rdl Annelene Hartnick vertel dat Keith een van haar leerders by Gerrit du Plessis Senior Sekondêr was. "Hy sal onthou word as 'n groot gees, met 'n groot liefde vir mense en Riversdal.
"Hy was 'n historikus in eie reg en het gereeld sy geliefde dorp se geskiedenis gedeel. Hy het ook dikwels gehelp om borge vir Riversdal se sopkombuise te kry."
Keith het by Bellville Opleidingskollege studeer en het die afgelope paar jaar hul gastehuis, Arbeidersrus, bestuur. Hy was 'n ywerige versamelaar van antieke meubel-stukke en boeke en was 'n uithaler kok.
Naasbestaandes en vriende het tydens 'n verbyrit by sy huis op unieke wyse van hom afskeid geneem.
'n Groot groep belangstellendes het vanaf 14:00 by Riverville-stadion bymekaar gekom en teen 15:00 het 'n verkeersmotor die stoet na die Eksteen-woning in Langstraat begelei.
Op versoek van die familie het deelnemers geldelike bydraes in plaas van blomme geskenk. Die geld sal aan 'n liefdadigheidsorganisasie waarby Eksteen betrokke was, gegee word.
Buiten Mhatey laat Keith 'n broer, Gregory Johnson en suster, Elaine Jantjies agter. "Ons wens sy naasbestaandes en vriende sterkte in hierdie droewige tyd toe. Ons sal Keith se besoeke aan die koerant beslis mis," het Wilma Adamson, redakteur gesê.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'