Update
VERMAAKLIKHEID NUUS - Tiny Treasures-kleuterskool, wat op 9 Mei op Vermaaklikheid geopen het, het 'n helpende hand uit 'n onverwagte oord ontvang.
Jacques van Rensburg van Vishoek het in 'n brief gerig aan Suid-Kaap Forum hulp aangebied.
"Ek skryf namens Little Angels. Ons doen meestal uitreikprojekte wat skenkings aan minderbevoorregtes wat hulp nodig het. Dit sluit ouetehuise, klinieke, skooltjies, en so meer in." Hy vra ook 'n lys van items wat benodig word.
Rina Serfontein van Stilbaai het ook 'n klomp speelgoed geskenk. "My kinders is groot en uit die huis, en die met kleinkinders woon oorsee. Dit help nie ek hou die speelgoed nie," het sy gesê.
Volgens Lezane Bam, onderwyser by Tiny Treasures, is daar 17 kleuters ingeskryf. "Dit gaan baie goed - die kinders is so gelukkig en opgewonde om by die skool te wees. Hulle is gretig om te leer en te speel."
Die kinders se ouderdomsgroepe is babas van 6 tot 12 maande, peuters van 2 tot 3 jaar, en kleuters van 4 tot 5 jaar.
"Ons gee elke dag vir hulle middagete met sap of melk," vertel sy.
Hul behoeftes sluit onderwysmiddele soos flitskaarte en opvoedkundige speelgoed in, asook bababedjies, matrasse, komberse en kussings. Speelterrein-toerusting is ook welkom. Hulle het ook 'n rekenaar en televisiestel nodig, maar nie alles wat hulle graag sal wil hê is groot goed nie – selfs waslappies en seep en Wetwipes is welkom, asook tweedehandse klere. "Daar gebeur soms 'n glipsie en dan het 'n mens skoon kleertjies nodig."
Wie nie aardse goed kan gee nie, kan hul dienste aanbied. "Ons wil graag die buitekant van ons skooltjie mooi maak en 'n lagie helder verf sal baie welkom wees."
Kontak Lezane Bam by 074 961 1060 vir meer inligting.
Lees 'n vorige artikel hier: Inwoners maak harte vir kleuterskool oop
'Ons bring jou die nuutste Vermaaklikheid, Hessequa nuus'