Update
STILBAAI NUUS - 'n Nuwe kleuterskool in dié kusdorp fokus daarop om veral plaaswerkers se kinders vir graad R gereed te maak.
"Die Klein Begin-kleuterskool in Rivierweg is een van die projekte van die subforum van die landelike polisiëringsforum," sê Alison Bryant, voorsitter van dié subforum. "Ons het vanjaar begin met drie kleuters wat die skool Maandae, Woensdae en Vrydae bywoon."
Die skooltjie is in 'n gebou op John en Karen Harding se Wild Olive-gasteplaas, wat hulle gratis tot die gemeenskap se beskikking stel. Analien Boshoff, 'n opgeleide kleuteronderwyser, bied ook haar diens gratis aan en die kleuters se ouers betaal geen fooie nie.
Gripoa, oftewel die Goukou River Property Owners Association, dra by om Boshoff se bestaande hulpmiddels aan te vul.
Volgens Bryant is Stilbaai se inwoners bekommerd daaroor dat so baie leerders nie skoolopleiding voltooi nie. "'n Mens kan dit in 'n mate toeskryf daaraan dat klaskamers by die naaste skool uit hul nate bars, met die gevolg dat daar nie baie aandag aan leerders wat sukkel gegee kan word nie.
Dié kinders val dikwels uit en dit is nie vir die ouers belangrik om hulle op die skoolbanke te hou nie.
Ons wil die kleuters help en sodoende 'n voorsprong gee sodat hulle meer gereed is om skool toe te gaan."
Naas die plaaslike polisie se rol in die veiligheid van die gemeenskap, ondersteun hulle ook gemeenskapsprojekte soos hierdie.
Lees 'n vorige artikel hier: Nuwe kleuterskool begin klein
By Klein Begin-kleuterskool op Stilbaai word speel-speel geleer. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'