Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Agtjarige kleuter van die dorp is 'n gedeelte van sy wysvinger kwyt nadat dit in 'n draaiwiel by die speelpark oorkant hul huis verstrengel geraak het.
Emiliano Adams het Saterdag 11 November teen 18:15 saam met maatjies by die park gespeel.
Volgens sy ontstelde ouers, Emile en Antoinette, wat beide in Kaapstad werksaam is, speel hulle gereeld daar.
Hulle noem dat die wiel reeds geruime tyd foutief is.
Antoinette noem dat haar ma, Elizabeth Esau by wie Emiliano bly, vertel het dat sy 'n paar dae vroeër met munisipale werkers gepraat het oor die toestand van die toerusting.
Dié het glo foto's daarvan geneem.
Esau vertel dat sy in die huis was toe sy hoor wat gebeur het.
Tot haar skok het sy ontdek dat sy regter wysvinger by die eerste lit af is.
Hulle het die lit daar opgetel om saam hospitaal toe te neem. By die hospitaal moes hul hoor dat die lit nie weer aangeheg kan word nie.
Nog 'n skok het op hulle gewag toe hulle die Maandag toe die operasie gedoen moes word, verneem dat die vinger weens die erns van die besering nog laer geamputeer moes word.
Die egpaar het na die operasie die munisipale kantore op Riversdal besoek om die voorval aan te meld en om te hoor wat die munisipaliteit omtrent die kwessie gaan doen.
Die stukkende ringwiel. Foto verskaf
Kommentaar deur Hessequa-munisipaliteit
Ons medelye gaan uit aan Emiliano Adams en sy ouers na die tragiese voorval by Youngsirkel-speelpark op Heidelberg.
Die nodige inspeksie is onmiddellik uitgevoer nadat die voorval onder die munisipaliteit se aandag gebring is en het getoon dat die apparaat nie in 'n werkende toestand was nie.
Die boonste gedeelte was gevandaliseer en die betrokke apparaat is dadelik verwyder.
Vandalisme, plundery en diefstal by speelparke is 'n ernstige probleem in die streek en hou 'n veiligheidsrisiko vir die gemeenskap en hul kinders in.
Die speelpark en toerusting word op eie risiko gebruik en ouers en toesighouers word versoek om hul kinders te vergesel wanneer hulle van die speeltoerusting gebruik maak.
Alle munisipale parke word weekliks deur die munisipaliteit nagegaan en skoongemaak.
Lees 'n vorige artikel: Kleuter by speelpark beseer
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'