STILBAAI NUUS - Stasie 31, die plaaslike NSRI spog deesdae met 'n groep kinders tussen die ouderdomme van sewe tot 12 wat deel uitmaak van die organisasie se Junior Academy.
Tydens hul opedag op Saterdag 22 Julie ter viering van die NSRI se 50ste bestaansjaar het George Sabaggah die sessie vir die jongspan aangebied en hul kennis ook na die tyd getoets. Die dag se les het bestaan uit 'n rit op Stasie 31 se reddingsbote Colourpress II en Spirit of St Francis.
In 2016 het die organisasie die 'Waterwise Academy' geopen met 880 000 kinders wat sedertdien geleer is hoe om te swem en wat om in 'n noodgeval te doen. Met die program kry hulle selfvertroue om basiese Kardiopulmonêre Resussitasie te kan doen. Hul word touwys gemaak in alles wat belangrik is by seeredding. Sessies fokus eerste op veiligheid, dus word gewoonlik op die konsep van een volwassene per kind of op die meeste twee kinders per volwassene gewerk.
Die doel en voordeel van die program om junior bemanning op te lei is om toe te sien dat daar altyd 'n volgende generasie vrywilligers is, asook om hulle toe te rus met noodsaaklike lewensvaardighede. Dit sluit in waterveiligheid, basiese maritieme opleiding, spanwerk en leierskap. Klasse vind Donderdae van 16:00 tot 17:45 by die stasie plaas.
Lees 'n vorige artikel hier: Kinders leer oor waterveiligheid
ARTIKEL & FOTO'S: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'