TUINROETE NUUS - AbbAsorg mik om R500 000 vir sy vroeë kinderontwikkelingsentrums landwyd in te samel.
Die organisasie gee kos en opvoeding aan voorskoolse kinders en verbreed hul sosiale vaardighede. Hulle bestuur vyf kleuterskole in Suid-Afrika, waarvan twee in die omgewing van Mosselbaai is. Meer as 220 kinders tussen drie en ses jaar oud word versorg.
Gaan ontmoet die televisiepersoonlikheid Ivor Price en die kinders van AbbAsorg-Boskabouters Saterdag 8 September by Langeberg Mall in Mosselbaai. Hy is in die Garden Route om die afskop van die ATKV se nuwe, landswye #helponsdroom-veldtog te vier, ten bate van die ATKV-AbbAsorg-crèches. Hierdie vyf leersentrums maak 'n ontsaglike bydrae tot die stabiliteit van die gemeenskap deur gehalte-opvoeding te verskaf in die vormingsjare van jong kinders wat dit nie andersins sou kon bekostig nie.
Volgens Herna Adams, nasionale koördineerder, beklemtoon die veldtog die breër maatskaplike waarde van AbbAsorg se werk in vroeë kindontwikkeling.
Dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur: korporatiewe aangeleenthede van die ATKV, sê 'n skenking vir AbbAsorg is soveel meer as net 'n skenking in die lewe van die meer as 220 kinders wat elke dag gehelp word. "Dit is 'n belegging in jou eie lewensgehalte. Deur 'n verskil te maak in hierdie fase van kognitiewe, fisiese en sosiale ontwikkeling van kinders gee die projek ook aan elke kind 'n reënboog van bykomende moontlikhede vir sy of haar eie toekoms."
Skenkingskeuses sluit in:
- Besoekers kan Saterdag by Langeberg Mall skenk;
- Ondersteun 'n crowd-funding-veldtog op Backabuddy, by www.backabuddy.co.za
- SMS 'AbbAsorg', jou naam en die bedrag wat jy wil skenk na 44733 (standaard tariewe geld), of
- Maak die ATKV die begunstigde op jou MySchool-kaart.
AbbAsorg is 'n nie-winsgewende organisasie met Artikel 18A-status. Jou skenking of borgskap kan van belasting afgetrek word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'