HEIDELBERG NUUS - Hierdie jaar is die leuse van die jaarlikse veldtog teen geweld teen vroue en kinders is 'Sluit my in of tel my by'.
Die 16 dae van aktivisme strek van 25 November tot 10 Desember.
Die tema sluit aan by wat die regering en verskillende gemeenskapsinstansies vanjaar beoog, naamlik dat mans, vroue en kinders moet saamstaan om die geweld teen die weerloses teen te werk.
Sekere gemeenskappe is goed vertroud met geweld wat hulle op hul eie manier probeer beveg. Daar is die geweld in die huis - meestal deur mans teen vroue en kinders. Daar is emosionele geweld waar vroue in die huis, werkplek en op straat verkleineer word, waar kinders in vrees leef, veral as die deur saans toegaan.
Dan is daar die geweld van die diep vlakke van armoede, wydverspreide werkloosheid en die uiterste ontmoediging wat intree, die selfbeeld wat aan skerwe spat en daarmee saam die verbrokkeling van die menslike gees.
Die slagoffer staan daar gestroop van alle menswaardigheid en sinies teenoor alles en almal. Dis in sulke omstandighede dat geweld voorkom en die weerlose vroue en kinders die slagoffers is. Dis ook in baie gevalle die teelaarde vir misdaad.
Regeringsinstansies en gemeenskapsorganisasies moet probeer om in die gees van 'Sluit my in' uit te reik na die vroue en kinders wat onder gesins- en ander geweld ly.
Harriet de Wet en Mariana Lotz van die Congregational Church op Heidelberg voel dat veral die kerk 'n spesiale rol in die veldtog teen geweld teen vroue en kinders moet speel.
Die kerk se wykstelsel dek die hele dorp en waar gesinsgeweld voorkom, behoort die kerk na vroue, mans, die jeug en ander groepe uit te reik - of die slagoffer 'n gemeentelid is of nie. 'n Deurlopende kerkaksie wat op gesinne waar geweld voorkom gemik is, behoort 'n kenmerk van die kerk se werk te wees bykomend tot dit wat ander gemeenskapsorganisasies bydra, sê die twee vroue.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'