HESSEQUA NUUS - Die manier waarop ’n persoon motor bestuur gee baie oor hom/haar weg.
Daar is trouens ’n hele afdeling van sielkunde wat die verband tussen padgedrag en persoonlikheid ondersoek.
Verkeersielkunde pas teoretiese beginsels toe om padgebruikers op te voed in goeie bestuurgewoontes, om sodoende ongelukke te probeer voorkom.
’n Bedagsame bestuurder kan ’n groot rol in padveiligheid speel. Elke aksie het ’n reaksie en klein dingetjies kan ’n ander motoris dalk nét genoeg irriteer om iets onverantwoordeliks te doen.
Volgens navorsers word meeste ongelukke nie deur ’n gebrek aan kennis of vaardigheid veroorsaak nie, maar deur ’n gebrek aan motivering om veilig te bestuur. Met ander woorde, deur bestuurders wat glo hul optrede kan nie ’n risiko vir hulself en ander padgebruikers inhou nie. Baie mense is nie eens bewus daarvan dat die onderliggende redes vir hul padgewoontes eintlik in emosies soos woede of ’n begeerte om ander te domineer, lê nie.
Motorbestuurders kan in vier hoofklassifikasies verdeel word, nl. die verstrooide bestuurder, die haastige bestuurder, die emosionele bestuurder en die nuwe bestuurder. Elke soort het sy eie uitdagings met eiesoortige oplossings.
Die verstrooide bestuurder moet dinge in die motor wat sy aandag kan aftrek soos ’n selfoon, bewustelik tot ’n minimum beperk. Haastige bestuurders is dikwels nie goed in hul tydsbenutting nie en is altyd half laat. ’n Verandering in skedules kan ’n groot verskil in hierdie bestuurstyl te weeg bring. Emosionele bestuurders moet ten alle tye bedag wees op hul emosies en hulself distansieer van situasies wat dreig om hul rasionele denke oor te neem. Nuwe bestuurders kan baat by die teenwoordigheid van gesoute motoriste. Dikwels bring die wete dat iemand met ervaring byderhand is, genoeg kalmte dat daar nie impulsiewe besluite agter die stuurwiel geneem word nie.
Navorsing het bewys dat strafmaatreëls alleen sonder opvoeding onvoldoende is om padgedrag te verander. Gewoontes ontwikkel oor jare en veilige padgewoontes moet reeds by kinders ingeskerp word. Volgende jaar eindig die VN se dekade vir padveiligheid. Die oogmerk van dié dekade was om ongeluksterftes in lidlande met die helfte te verminder. Suid-Afrika se statistiek het in die afgelope 10 jaar in die teenoorgestelde rigting gegaan.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'