Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Kollegestudente wat Vrydag 6 Maart luidrugtig teen wanuitbetaling van studentetoelaes betoog het, is intussen ingelig oor die rede daarvoor.
Volgens die studente van Suid-Kaap Kollege (SKK) se Hessequa-kampus het sommige van hulle nog glad nie vanjaar hul studietoelaes ontvang nie.
“Van die studente het wel toelaes ontvang, terwyl ander nog wag - hoe kan ’n mens studeer as jy honger is of nie toiletware vir peroonlike higiëne het nie?” het Marius Ferndale, woordvoerder vir die studente van agter ’n toe hek, wat die studente self gesluit het, vir Suid-Kaap Forum gesê.
“Ek het die studente vanoggend opnuut ingelig oor die kollege se beleid en prosesse,” het Cobus Smith, kampushoof, wat weens ander verpligtinge nie Vrydag beskikbaar was nie, Maandag 9 Maart gesê.
Studente doen skriftelik aansoek vir ’n studiebeurs by die nasionale studente finansiële hulpskema (NSFAS) van die departement van hoër onderwys. “Dit is belangrik dat die vorms in swart ink en in hoofletters ingevul word en ondersteunende dokumente aangeheg word sodat die inligting verwerk kan word.”
Kyk 'n verskafde video hieronder:
“Wanneer die vorms onleesbaar of verkeerd ingevul is of onvolledige dokumente angeheg is, vertraag dit die aansoekproses wat uitbetalings ophou.”
Die NSFAS-beurse maak ook voorsiening vir ’n verblyf- of reistoelaag. “Studente wat binne ’n omtrek van 40 km vanaf die kampus woon, kry ’n reistoelaag, terwyl die wat verder woon ’n verblyftoelaag kry - hulle kan nie albei toelaes kry nie. As hulle koshuisinwoning goedgekeur is, ontvang hulle drie gebalanseerde maaltye per dag, of hul toelaes goedgekeur is of nie. Voorts kry studente ook ’n welsyntoelaag (wellness) waarmee toiletware en ander persoonlike items aangekoop kan word.”
“Studente moet vroegtydig en korrek aansoek doen om die prosesse te bespoedig om laatbetalings te voorkom. Hulle moet net geduldig wees, want as hulle die korrekte proses gevolg het, sal hulle hul toelaes ontvang.”
Altesaam 136 studente is vanjaar by die kollege vir twee driejaar diplomakursusse in onderskeidelik in opleiding as bestuursassistent (management assistant) en menslike hulpbronbestuurder (human resource management) ingeskryf.
Vorige artikel: Kollegestudente betoog oor studietoelaes
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'