RIVERSDAL NUUS - Omvattende beplanning om die veiligheid van die dorp en landelike omgewing se inwoners op te skerp, word die afgelope weke deur 'n spesiale taakspan gedoen.
Verteenwoordigers van die landbougemeenskap, munisipaliteit, polisie, gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sakekamer en AfriForum het ver gevorder om prioriteite te identifiseer en bestaande aksies te koördineer.
Callie Jordaan, voorsitter van distrikslandbou in Hessequa, tree op as voorsitter van die veiligheidskomitee. Hy is vol vertroue dat 'n kamera-netwerk, wat al Riversdal se ingange kan monitor en onderlinge skakeling tussen die verskillende belangegroepe met 'n gekoördineerde radiostelsel, voor die einde van die jaar 'n werklikheid kan wees. Dit word in die vooruitsig gestel dat die hele gemeenskap by 'n insamelingsveldtog betrek kan word om minstens R200 000 in te samel, terwyl die munisipaliteit genader sal word om infrastruktuur te skep by die verskillende kamerapunte.
Volgens Jordaan sal alle inwoners by die stelsel baat en is die verwagting by die veiligheidskomitee dat individue, organisasies, skole, kerke en sakeondernemings skenkings sal maak om die doelwit te bereik. Nasionale maatskappye soos banke en kettinggroepe wat in die dorp sake doen, sal ook genader word vir bydraes.
Suid-Kaap Forum het onderneem om die veldtog te help dryf en deursigtig te maak deur in die koerant erkenning te gee aan donateurs en deurlopend verslag te doen oor die groei van die fonds en die vordering van die projek.
Die fonds sal deur 'n subkomitee van die taakspan, onder toesig van 'n geoktrooieerde rekenmeester bestuur word. Bankbesonderhede word eersdaags bekend gemaak.
'n Toetskamera langs die N2 wat gratis deur 'n verskaffer beskikbaar gestel is, werk baie goed. Die kamera lees nommerplate 24/7 en sein binne sekondes gemerkte voertuie se besonderhede na 'n sentrale databasis en verskeie ander opgestelde bestemmings. Die polisie het direkte toegang tot die stelsel.
"Altesaam 33 gemerkte voertuie is tussen 6 Julie en 2 Augustus deur die kamera waargeneem," aldus Johan Crous, hoof van veiligheid van AfriForum se Hessequa-tak, wat betrokke is by die toetsprojek.
Die belangrikheid van 'n beheerkamer wat 24-uur beman moet word, is uitgewys omdat die opvolgaksies nie voldoende is nie, meen Crous. Soortgelyke nommerplaatkameras by die dorp se ingange en standaard sekuriteitskameras op strategiese plekke op voetgangerroetes vanaf die woonbuurte na die middedorp en skole wat in 'n sentrale beheerkamer gemonitor word, behoort 'n groot positiewe impak op misdaadvoorkoming en veiligheid te hê, sê Crous.
Verskillende opsies oor die ligging en bestuur van 'n beheerkamer word ondersoek. Die GPF kan moontlik hier ook direk betrokke raak, volgens Beth Pain, voorsitter van die GPF op Riversdal. Sy noem dat fondse moontlik beskikbaar kan wees om opgeleide persone te vergoed en by te dra tot werkskepping.
Die verskillende buurtwagte kan moontlik ook opgeleide vrywilligers voorsien om die bemanning te behartig.
Jordaan noem dat die komitee ook betrokke is by gebeurlikheidsbeplanning vir ramp- en noodsituasies wat deur die onderskeie buurtwagte, in samewerking met die polisie en departement van gemeenskapsveiligheid gedoen word.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'