Update
HEIDELBERG NUUS - Kairos Senior Sekondêr het onlangs hul eerste landdros opgelewer toe een van hul oudleerders as streeklanddros vir Germiston, Gauteng aangestel is.
Madelein Laws, dogter van Edward en Paula Laws van die Oos-Dorp het op 15 Maart in haar pos as streeklanddros begin.
Dié beskeie, dog hardwerkende oudleerder wat in 2004 gematrikuleer het, het haar laerskoolloopbaan aan De Waalville Primêr begin. Sy het in 2005 aan die Universiteit Noordwes, Potchefstroomkampus begin studeer en in 2008 haar LLB-graad verwerf, waarna sy begin Maart 2009 as kandidaat prokureur by die Regshulpraad in Johannesburg tot Augustus 2011 haar artikels voltooi het.
Laws het in September 2011 as aspirant staatsaanklaer by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) op Germiston begin, waar sy dan in 2012 permanent as streekaanklaer tot haar huidige bevordering werksaam was.
Tans beklee sy die pos as streeklanddros vir die departement justisie op Germiston, maar is sy in die verkeersafdeling in die Elsburg landdroshof werksaam.
Volgens Laws is haar amp wel 'n groot prestasie vir 'n meisie van die 'Gat', soos dié gedeelte waar sy grootgeword het, alombekend staan en voel sy baie bevoorreg om die amp te beklee.
Sy is baie nederig en beskou sy dit bloot as haar bydrae om 'n verskil in die samelewing te maak.
Sy moedig jongmense en veral vroue aan om die geleenthede wat daar is, ten volle te benut om hulself ten volle te bemagtig.
"Moenie toelaat dat jou omstandighede 'n struikelblok wees nie. Styg bo dit uit en wees doelgerig om jou doel te bereik."
Lees 'n vorige artikel: Kairos lewer eerste landdros op
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'