Update
HEIDELBERG NUUS - Die bekende en geliefde inwoner en 'n groot natuurliefhebber, June Pretorius (49) is verlede week, Saterdag 4 November ter ruste gelê.
Die diens is Woensdagaand met 'n roudiens uit die kerk voorafgegaan.
June het Sondag 30 Oktober in die vroeë oggendure gesterf. Sy het haar stryd teen maagkanker in die Life Bay View-hospitaal op Mosselbaai verloor.
Sy het geruime tyd probleme met haar maag ondervind en is eers sowat vyf weke gelede met kanker gediagnoseer. Volgens Frank, haar eggenoot van 14 jaar, is sy aan en af oor 'n tydperk in die hospitaal opgeneem.
Sy was vir ongeveer twee weke opgeneem en ontslaan, maar na byna 'n week by die huis is sy weer opgeneem, waar haar toestand spoedig verswak het.
Hy vertel hartseer dat hy en sy familie nog Saterdagoggend aan die pretloop ten bate van Kansa deelgeneem het voor hulle die sportdagverrigtinge bygewoon het.
"Ons het beplan om Sondag heeldag by haar deur te bring, toe ons kort na 01:00 Sondagoggend die oproep vanaf my skoonsusters wat deur die nag by haar gewaak het, ontvang dat sy oorlede is."
June, wat as 'n baie lewenslustige, dog sagmoedige vrou op sosiale media deur familie, vriende en kollegas beskryf word, was 'n regte 'go-getter' wat na 14 jaar diens as winkelassistent by 'n supermark op die dorp van loopbaan verander het om haar groot liefde as natuurliefhebber uit te leef.
Sy het haar kans in 2004 aangegryp om as kontrakteur by Overberg Water betrokke te raak, waar sy vir vier jaar werksaam was in die Duivenhoks en Buffeljags Werk vir Water-program.
Daarna het sy vir sewe jaar as projekbestuurder in die program gewerk en die afgelope twee jaar as assistent-veldwagter.
Sy was ook 'n groot sportliefhebber wat haar seun Fernell se rugbyloopbaan geesdriftig ondersteun het.
Sy was 'n stigterslid van Kairos Ondersteuners Groep (KOG) vir die afgelope vyf jaar en 'n lojale lid van St. Barnabas Anglikaanse Kerk.
Volgens Llewellyn Michaels, assistent bestuurder by CapeNature was June baie pligsgetrou en gretig om te leer.
"Sy het nooit geskroom om haar beste te gee nie. Hoewel sy 'n harde werker was, was sy baie saggeaard en vir vele werkers 'n moederfiguur."
'n Kollega van haar, Dominique Coetzee het op Facebook gesê June was 'n kollega 1000, altyd daar wanneer jy haar nodig gehad het.
Buiten Frank en Fernell laat June haar dogter Lynishia, kleindogter Kayden, haar ma Lydia Hartnick, asook vyf susters en een broer agter.
Die bekende akteur Maurice Paige is een van haar susters se seun.
Lees 'n vorige artikel: Kanker eis nog 'n lewe
ARTIKEL EN FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'