Update
STILBAAI NUUS - 'n Eenjarige olifantrob is Sondag 26 November op Skulpiesbaai se strand deur 'n inwoner, Elzette Nelson opgemerk waar dit uitgespoel het.
Nelson het dadelik op sosiale media om hulp gevra, waarop S.M.A.R.T. (Stranded Marine Animal Rescue Team) van Mosselbaai haar gekontak het.
Hulle het ook vir die Kaapse Natuurbewaring (CapeNature) in kennis gestel en het saam die rob gemonitor.
'n Vrywilliger van S.M.A.R.T. Mariska Visagie wat verlede jaar 'n toekenning van die organisasie ontvang het vir haar reddingswerk met robbe, het Maandagoggend baie vroeg na die strand gegaan.
Volgens haar is dié rob van Antarktika afkomstig en baie skaars in hierdie omgewing.
"Hulle is ook meer aggressief as 'n gewone rob," vertel sy.
Volgens Visagie spoel Kaapse robwelpies dikwels op strande uit.
"Hulle word deur stormagtige seetoestande van die rotse op Robeiland by Mosselbaai afgeslaan en deur die see meegesleur, waarna hulle op die strand uitspoel."
Sy maan mense om nie hierdie jong robbe terug in die see te help nie, maar eerder die hulp van organisasies te verkry, soos dié van S.M.A.R.T. of Kaapse Natuurbewaring.
Ingeval jy op mariene diere soos seeskilpaaie en brilpikkewyne op die strand afkom, kontak Tersia Marais by S.M.A.R.T. by 072 227 4715 vir raad en bystand.
Hulle behoort eersdaags ook 'n tak op Stilbaai te hê en meer inligting sal binnekort verskaf word.
Besoek hul Facebook-blad by www.facebook.com/SMARTMosselbay vir meer inligting.
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'