Update
HEIDELBERG NUUS - Wat vir Gideon en Minkie Liebenberg 'n rustige en liefdevolle dag moes wees, het in 'n tragedie verander toe hulle op Valentynsdag, 14 Februarie die tragiese nuus ontvang dat hul dogter, Joaline in die hospitaal in George gesterf het.
Die 30-jarige ma van twee het blykbaar van geelsug gesterf. Volgens haar ontstelde ma is Joaline glo eers Maandagoggend 12 Februarie deur 'n plaaslike dokter hospitaal toe verwys, nadat hulle haar ook Sondagaand spreekkamer toe geneem en haar toestand deur die nag verswak het.
Minkie vertel dat Joaline vir drie weke daghospitaal bygewoon het nadat sy opgemerk het dat haar oë geel was.
"Elke keer het hulle haar net aangesê om baie water te drink. Hoekom het hulle haar nie vroeër na die dokter of hospitaal toe verwys nie".
Haar ma vertel verder dat haar toestand so verswak het dat die dokter onmiddellik die ambulans ontbied het toe hulle by die spreekkamer gekom het.
Sy het blykbaar kort na hul aankoms by Riversdal-hospitaal in 'n koma verval, waarvan sy nooit ontwaak het nie.
Sy is na die hospitaal in George en is hulle die volgende dag na George ontbied, waar 'n dokter hulle meegedeel het dat Joaline se toestand baie ernstig is.
Hulle sou dadelik nadat die uitslae van die bloedtoetse bevestig is, Woensdagmiddag met die behandeling begin, maar Joaline het die stryd verloor voor dit kon gebeur.
Familie en vriende betoon hul laaste eer.
Honderde roubeklaers het Saterdag 24 Februarie die roudienste by die huis en Nuwe Apostoliese Kerk-Oos bygewoon.
Die verassing vind later plaas.
Buiten haar ouers laat Joaline 'n dogter, Waydene (10), Lee-Wayden (twee maande), asook twee broers agter.
Vir kommentaar genader het Nadia Ferreira, Suid-Kaap mediawoord-voerder vir die Wes-Kaap departement van gesondheid gesê dat Liebenberg die toepaslike en gereelde mediese behandeling ontvang het, maar ten spyte van die mediese sorg dit ongelukkig nie gemaak het nie.
"Ons verwelkom die familie om die hospitaal te nader om meer duidelikheid oor die pasiënt te verkry."
Lees 'n vorige artikel: Tragedie tref ouers op Valentynsdag
ARTIKEL & FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'