HESSEQUA NUUS - Die nasionale instituut vir oordraagbare siektes van Suid-Afrika (NICD) het op Vrydag, 10 Junie bevestig dat Suid-Afrika nou amptelik die derde golf van Covid-19 infeksies betree het.
Die afgelope twee weke het ook getoon dat die aantal Covid-19 gevalle in die Hessequa munisipale gebied toeneem en is daar gevolglik besluit om die Jeugdag-program af te stel.
Jeugdag word op 16 Junie gevier en is dit ? huldeblyk aan diegene wat vir ‘n regverdige en demokratiese samelewing geveg het. “Ek ondersteun die viering van hierdie belangrike dag, aangesien dit ons herinner aan die belangrike rol wat ons jeug in die toekoms van ons land speel,” het die uitvoerende burgemeester van Hessequa, Grant Riddles in ‘n persverklaring gesê.
Die Hessequa-streek het ‘n hoë werkloosheidsyfer onder ons jeug en die gebrek aan voldoende vaardighede beperk hulle om hul volle potensiaal te bereik. Werkskepping, opleiding en vaardigheidsontwikkeling is die grootste deurslaggewende faktore wat nodig is om ons jeug toe te rus om hul toe te laat om die formele arbeidsmark te betree.
“Die bemagtiging van jeug is vir die munisipaliteit ‘n prioriteit. Die gemeenskapsontwikkeling-afdeling het dus onmiddellik ingekoop toe hulle deur Stilbaai-polisie genader is om by hulle Jeugdag-program betrokke te wees.”
Die doel van die program was om jeugdiges aan bemagtigingsgeleenthede bloot te stel. As deel daarvan sou jeugdiges die geleentheid gebied word om ‘n loopbaan uitstalling by te woon.
“Ek doen hiermee ‘n beroep op ons jeug om nou meer as ooit verantwoordelik op te tree. Neem die veiligheid en gesondheid van julle gesinne, vriende en mede-skoliere in ag. Dra jou masker, was en ontsmet jou hande op ‘n gereelde basis en behou ‘n veilige sosiale afstand. Die verantwoordelikheid om die verspreiding van Covid-19 te voorkom begin by jouself.”
Enige navrae in die verband kan aan mnr R Heunis (028 713 7805) gerig word.
Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'