Update
RIVERSDAL NUUS - Inwoners van Sunnyside-woongebied en naburige strate in Riversdal het meer as net 'n sug van verligting geslaak toe die eienaar van 'n Volkswagen Polo sy voertuig se revolusies blykbaar só opgejaag het dat dit aan die brand geslaan het.
Die voorval het op Sondag, 14 Junie om 02:35 plaasgevind. Die voertuig het heeltemal uitgebrand. Die plaaslike brandweer het gekeer dat die vlamme 'n nabygeleë huis bereik.
Volgens inwoners van die omgewing, het dié petrolkop hulle veral naweke en in die oggendure getreiter deur met 'n brullende enjin en oorverdowende musiek rond te ry. Hulle was juis van voornemens om aansoek te doen vir 'n hofbevel, maar nou is dit nie meer nodig nie. Hieroor is daar egter gemengde gevoelens en het heelwat persone hulle mening op sosiale media ten gunste van die Polo-eienaar uitgespreek. Van hulle is van mening dat inwoners aan 'die klein dorpie sindroom' ly en mense niks gun nie.
Een van die inwoners het gesê: "Ek het tot my Here gebid dat die kar moet uitbrand, want ons is só iets nie gewoond nie. Dit is 'n ou woonbuurt wat altyd rustig was. Dit is tyd dat ons 'n inwonersvereniging stig wat ons meer krag kan gee om sulke gebeurtenisse te voorkom."
Geen misdaad word vermoed nie.
Vorige artikel: Inwoners verlig toe motor brand
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'